Noorde steeds onder water
Inwoners meld meer waterlekke aan as wat herstel kan word.
Corlia Kruger
Vir elke gebarste waterpyp wat in die noorde van Pretoria herstel word, word dosyne nuwe lekplekke aangemeld.
Só sê inwoners en huiseienaars wat daaglik deur dié probleem geraak word.
Tshwane burgemeester Kgosientso Ramokgopa het onlangs ’n nuwe e-pos adres ingestel wat inwoners kan gebruik om waterlekkasies in Pretoria aan te meld.
Hy sê die probleem met waterlekke is kommerwekkend en moet so gou as moontlik reggestel word.
Die metro se plan is om meer mense te kry wat fokus op die herstel van waterpype in die stad.
Inwoners in Pretoria-Noord is begaan oor die verkwisting van water wat in strate afstroom.
In Burgerstraat moes sake-ondernemings en woonstelblokke telkens sonder water klaarkom weens gebarste pype.
DA-raadslid Dana Wannenburg sê dit lyk of die situasie verbeter het, maar kla dat daar steeds probleme is in Rachel De Beerstraat, Britsweg en Koos de la Reystraat.
“Gebarsde pype in Britsweg en Koos de la Reystraat lek al die afgelope twee weke,” sê Wannenburg.
Omliggende gebiede is ook geraak deur die verouderde infrastruktuur en asbespype wat gereeld bars.
Inwoner naby Dr Savageweg in Pretoria, Marieta Bredenkamp, het maande gelede ’n probleem aangemeld van water wat uit ’n reservoir lek.
“So ongeveer drie maal ’n week word alles hier oorspoel,” vertel sy met verwysing na die ‘dam’ in Dr Savageweg.
Sy sê die water kom direk uit ’n Tshwane-reservoir weens ’n outomatiese uitlatingsklep wat nie behoorlik sluit nie.
“Ons het ’n winkel wat werk verskaf aan mense met ’n gestremdheid en mense met gestremdhede woon ook op die perseel,” verduidelik Bredenkamp.
“Van hulle gebruik elektriese rolstoele en waar die ‘dam’ vorm is hul enigste pad na ’n kafee of bank. Dus word hul enigste vryheid om onafhanklik te beweeg beperk.”
Ramokgopa sê die nuwe e-pos adres vir lekplekke sal die metro in staat stel om waterpype vinniger te herstel.
Lees ook:
Noorde van Pretoria onder water
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
