EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Eugene de Kock by boekbekendstelling

Daar is geen geraamtes meer wat uit Eugene de Kock se kas gaan tuimel nie.

Voormalige Vlakplaasbevelvoerder Eugene de Kock het Dinsdagmiddag gesig gewys by die bekendstelling van sy biografie Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die Staat.

“Geen foto’s mag van Eugene geneem word nie en julle mag ook nie persoonlike vrae aan hom rig nie,” het Anemari Jansen, skrywer van sy biografie, in ’n stampvol Rafters in die ooste van Pretoria, gesê.

Rekord was een van die min joernaliste wat al met De Kock gesels het na sy vrylating, maar die gesprek was meer persoonlik van aard omdat sy paroolvoorwaardes hom verbied om met die media te praat.

De Kock het voor by ’n tafel, waarop die boeke opgestapel was, gesit. Hy het ontspanne in sy denim en geruite hemp gelyk, maar met opvallende halfmane onder sy oë.

De Kock is in Janaurie vanjaar op parool vrygelaat.

“Die eerste paar maande na sy vrylating was baie traumaties, maar hy pas goed in die samelewing aan ná 22 jaar agter tralies,” het Jansen gesê.

Die boekbekendstelling is deur oud-polisie-en-intelligensiemanne bygewoon. Vir die manne sal “Gene” altyd ’n held bly.

“Jy is ’n yster, ’n yster, Eugene,” het afgetrede generaal-majoor Suiker Brits, gesê. “Ons het jou nog altyd ondersteun. Jy is ’n sterk, wonderlike mens.”

George Kellerman, voormalige stasiebevelvoerder van die Erasmia-polisiekantoor, het, glas omhoog, gesê, “Jou lojaliteit is prysenswaardig. Jy is ’n held.”

“Wanneer gaan Eugene ’n bok saam met ons kan kom skiet?” het ’n man uit die gehoor gevra.

“Sy paroolvoorwaardes is nog baie streng, maar dit sal seker oor sy twee jaar ligter wees,” het Jansen gesê.

Volgens Jansen, by wie De Kock glo die afgelope paar maande bly, is daar geen geraamtes meer wat uit De Kock se kas gaan tuimel nie.

“Eugene het alles gesê wat hy moes sê. Daar is niks wat meer moet uitkom nie. Hy reis lig. Hy dra ook nie meer wrewels nie. Hy het vrede gemaak.”

Jansen het gesê De Kock is in die stadium druk besig. “Hy is betrokke by grensveiligheidsprojekte.”

Jansen het ook verklap dat hy besig is om ’n boek te skryf. “Dit is ’n opdragwerk en handel oor Koevoet. Die boek behoort volgende jaar op die rakke te wees.”

Voormalige apartheidspioen Vic McPerson het skertsend bygevoeg: “Kom, manne, nou moet julle boeke koop. Eugene het nie ’n pensioen bymekaar gemaak nie.”

De Kock het elkeen se boek persoonlik geteken, blad geskud en geglimlag, maar daar was geen geselsies oor Vlakplaas en die ou dae nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button