Local newsNewsSport

Spoed is Luan se middel naam

Wanneer die vyfjarige Luan Gertenbach hardloop, laat hy net ’n stofwolk agterna.

Luan, ’n graad R-leerling by Laerskool Boerefort se kleuterskool, wat vanjaar eers ses word, neem saam met die graad 1-seuns (o.7) aan die skool se naellope (60m en 80m) deel.

Pa Dirk is baie opgewonde om sy seun se goeie prestasies met Rekord te deel en sê wanneer dit by hardloop kom, Luan ’n sportster is.

“Luan is al van 2014 by die kleuterskool en sy graad RRR-onderwyser – oorlede me. Elsabe, het my eendag genader en gesê dat sy opgemerk het dat die kind ’n goeie talent het as dit by hardloop kom,” sê Dirk.

“Sy het hom so af en toe saam met die groter kinders laat hardloop en besef dat hy nie terugstaan nie, en het opgemerk dat hy ‘n besonderse mooi tegniek en styl het wanneer hy hardloop. Sy het gesê dat ons hom net kans moet gee en aandag aan sy talent bestee.”

Ma Leonie het toe besluit om in die begin van die nuwe kwartaal vanjaar, Luan vir die laerskool se interhuis-atletiekbyeenkoms in te skryf.

Hy het saam met graad 1-leerlinge die 60m gehardloop en derde gekom en so ook sy plek in die skool se atletiekspan verwerf.

“Die eerste kompeterende byeenkoms was by Laerskool Pierneef op 21 Januarie waar hy ’n welverdiende derde plek behaal het met die 60m vir seuns o.7,” vertel Dirk.

Die tweede atletiekbyeenkoms was by Laerskool Magalieskruin en Luan het ook teen leerlinge van vier ander skole meegeding. Hy het vierde plek behaal in die 60m-wedren en weer met derde plek gespog in die 80m-item.

“Tot ons verrassing het die skool ons verwittig dat Luan as gevolg van sy goeie prestasie by die laaste byeenkoms, deurgegaan het om aan die Cluster deel te neem. Net die beste twee seuns mag deelneem,” sê Dirk trots.

“Hy was so opgewonde die dag dat hy elke vyf minute wou hardloop en vrae gevra soos: ‘moet ek al hardloop?’ en ‘wanneer gaan ek hardloop?’.”

Tydens die groot byeenkoms by Hoërskool Wonderboom het 11 skole deelgeneem en Luan het weer goed presteer ongeag sy jong ouderdom.

“Hoewel hy nie dié keer deurgedring het na die eindronde nie is ons baie trots op sy deelname en die passie waarmee hy dit gedoen het,” spog Dirk met sy jong atletiekster.

Luan Gertenbach hardloop na sukses en sy ouers sien uit na die komende jaar se atletiekbyeenkoms waar hy homself as naelloop-ster kan bewys.

Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.

  • We have exciting news! We’re offering a free alert to help you always be in the loop. Send an email with the word ‘Subscribe’ to breakingnews@rekord.co.za to receive your free daily breaking news update.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button