News

Onderwysfondse onbestee ondanks skole se geldnood

Twee onderwysorganisasies se eise plaas die klem op die verband tussen begrotingsbesluite en die hulpbronne wat skole werklik ontvang.

Die terugbetaling van sowat R630 miljoen aan onbestede onderwystoelaes aan die Nasionale Tesourie, terwyl skole sukkel om noodsaaklike uitgawes te dek en onderwysposte onder druk kom, het nuwe vrae oor finansiële bestuur en aanspreeklikheid in die onderwyssektor laat ontstaan.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) eis ’n ondersoek na die onderbesteding, terwyl die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) duidelikheid verlang oor die besteding van bykomende begrotingsbefondsing en die impak van vroeë aftrede op personeelvlakke.

Die parlementêre gekose komitee oor Onderwys, Wetenskap en die Kreatiewe Nywerhede het op 21 Oktober kommer uitgespreek oor die sowat R630 miljoen aan voorwaardelike toelaes wat die Departement van Basiese Onderwys (DBO) aan die Nasionale Tesourie terugbetaal het.

Die komitee wil weet waarom die geld nie bestee is nie en of dit, waar toepaslik, herprioritiseer kon word om dringende onderwysbehoeftes aan te spreek.

Die behoeftes sluit skoolinfrastruktuur, sanitasie, die nakoming van norme en standaarde en ondersteuning aan die grondslagfase in.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, sê die terugbetaling moet teen die finansiële druk op skole beoordeel word.

“Dit help nie die regering bewillig miljarde rande vir onderwys as die geld nie uiteindelik die skole en leerders bereik waarvoor dit bedoel is nie. Elke rand wat weens swak beplanning en bestuur onbestee bly, verteenwoordig ’n verlore geleentheid om onderwys te verbeter,” sê Buys.

Die bedrag van R630 miljoen is gelykstaande aan die beraamde jaarlikse indiensnemingskoste van ongeveer 900 onderwysers teen R700 000 per pos.

Die organisasie verwelkom die parlementêre komitee se optrede, maar sê verduidelikings moet deur aanspreeklikheid en regstellende optrede gevolg word.

Die organisasie wys terselfdertyd op probleme met die betaling van staatstoewysings aan skole in Gauteng.

Volgens die SOS het talle skole teen die voorgeskrewe betaaldatum van 15 Mei 2026 minder as 3% van hul jaarlikse staatstoewysings ontvang.

Die gevolge raak skole se daaglikse bedryf. Volgens die SOS word instandhouding uitgestel, aankope van handboeke en leermateriaal beperk en reserwefondse gebruik om lopende uitgawes te betaal.

Poste van onderwysers wat deur skoolbeheerliggame aangestel word, kom ook onder druk.

“Dit is ’n skreiende teenstrydigheid. Op nasionale vlak word miljoene rande terugbetaal omdat dit nie bestee is nie, terwyl skole op provinsiale vlak moet baklei om geld te ontvang waarop hulle wetlik geregtig is. In albei gevalle dra leerders, onderwysers en ouers die gevolge,” sê Buys.

Die SAOU het intussen die bykomende R20.5 miljard wat in die nasionale regering se mediumtermynbegroting op 21 Oktober aangekondig is, aan provinsiale begrotings beskikbaar gestel word, verwelkom.

Die befondsing is bedoel om provinsies met stygende gesondheids- en onderwyskoste te help.

Paul Sauer, hoof uitvoerende beampte van die SAOU, sê begrotingsaankondigings moet aan die werklikheid in skole getoets word.

“Die vraag is nie net hoeveel geld beskikbaar gestel word nie, maar of dit uiteindelik ’n verskil in skole se werksomstandighede en die gehalte van onderrig en leer sal maak. Die SAOU vra dat die regering duidelikheid gee oor hoe die bykomende befondsing aangewend gaan word om skole se dringende behoeftes aan te spreek,” sê Sauer.

Volgens die unie moet voldoende befondsing, gevulde onderwysposte en toegang tot onderrigmateriaal prioriteit geniet. Die vakbond waarsku dat geld wat aan provinsies beskikbaar gestel word, nie op sigself beter onderrig sal verseker indien skole steeds nie die nodige hulpbronne ontvang nie.

Die vakbond is ook bekommerd oor die toename in suksesvolle aansoeke vir die vroeë aftredeprogram.

In die eerste fase was daar 8 103 suksesvolle aansoekers, vergeleke met 19 347 in die tweede fase van 2026. Dit verteenwoordig ’n toename van byna 140%.

Sauer waarsku dat die vertrek van ervare onderwysers bestaande personeeltekorte en werkslaste kan vererger.

Die vakbond vra dat provinsiale departemente die gevolge vir skole se personeelbehoeftes dringend beoordeel en vakatures sonder onnodige vertraging vul.

Sauer beklemtoon dat die behoud van ervare onderwysers en die tydige aanstelling van plaasvervangers noodsaaklik is om te voorkom dat die werkslas op oorblywende personeel en die druk op leerders toeneem.

Die unie het ook die aangekondigde tydelike brandstofverligting verwelkom.

“Onderwysers is besonder kwesbaar vir stygende brandstofpryse. Anders as baie ander beroepsgroepe moet die meeste onderwysers daagliks by skole aanmeld en kan hulle nie bloot van die huis af werk nie. Pendelkoste plaas dus verdere druk op huishoudings se begrotings.

Die SAOU ondersteun die Federasie van Vakbonde van Suid-Afrika se oproep om die brandstofheffing te bevries en verwelkom die aangekondigde verligting, maar die verligting is tydelik. Die regering moet steeds aandag gee aan die voortdurende druk wat die lewenskoste op werkende huishoudings plaas,” sê Sauer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button