Ramcat Fishing se spesiale hengelfees vir gestremde persone terug in Pretoria
Ramcat Fishing se hengelfees keer op Vrydag 23 Oktober terug na Pretoria met ’n kinkel en ’n nuwe tuiste aan die suidekant van die stad.
Die bekende jaarlikse hengelfees van Ramcat Fishing is terug in Pretoria en vanjaar se 14de aanbieding van dié fees beloof om aan die gestremdes wat deelneem ’n heel nuwe ervaring by ’n nuwe bestemming te bied.
Nadat dié hengelfees, wat jaarliks spesiaal vir gestremde persone gereël word, vir langer as ’n dekade by die die dam van die Irene Country Lodge in Centurion aangebied is, moes dit noodgedwonge verlede jaar na die buitewyke van die stad by die Zonderwater Gevangenis se dam verskuif word.
Vanjaar skuif die hengelfees egter terug na die Centurion omgewing, maar wéér by ’n nuwe bestemming. Die Ramcat Hengelfees vir gestremde hengelaars word op Vrydag 23 Oktober by die dam van die Prime View Adventure & Leisure oord in Rantjiesfontein, net suid van Midstream in Centurion aangebied.

Foto: Koos Venter
Dié oord, wat bereik word via die R562 Olifantsfontein pad, bied luukse fasiliteite vir beide deelnemers en gaste tydens die fees.
Volgens die organiseerder van Ramcat Fishing se hengelfeeste, Gerard (Yster) Smal, is die dam propvol karp en babers en hengelaars behoort ’n dag van opwinding en sukses langs die viswater te beleef. Die gestremde hengelaars mag oudergewoonte bygestaan word deur ’n helper.
Smal het ook aan Rekord gesê dat spesiale hulde vanjaar gebring sal word aan een van die fees se getrouste deelnemers, Johan Crouse, wat die afgelope week sy 74ste verjaardag gevier het.

“Ons het hierdie fees aanvanklik begin om iets besonders aan te bied vir alle oud dienspligtiges wat in die uitvoering van hul pligte tydens die destydes Bosoorlog beseer is en gestremd geraak het. Baie van die oorsponklike makkers is intussen oorlede en ons het later ook gestremdes wat weens sportbeserings gestremd geraak het, uitgenooi, terwyl ’n groep dowe hengelaars ook die afgelope jare by ons aangesluit het. Eintlik is enige gestremde persoon welkom om deel te neem,” het Smal verduidelik.
Volgens Smal is daar egter besluit om vanjaar se hengelfees op te dra aan Crouse, een van die oud dienspligtiges wat van die begin af deel was van die projek.

Foto: Koos Venter
“Johan het as jong dienspligtige in die 1970’s gestremd geraak na ’n ongeluk met ’n militêre voertuig. Hy was die enigste oorlewende van dié ongeluk en is al langer as 50 jaar in ’n rolstoel. Sover bekend is hy waarskynlik die oudste oorlewende persoon wat tydens diensplig gestremd geraak het en ons het besluit om vanjaar vir hom iets spesiaal te doen,” het Smal gesê.
Crouse is Woensdag deur die Ramcat Fishing organisasie na die Voortrekker Monument geneem en met ’n spesiale ontbyt bederf. Daarna het hy ook ’n geskenk van die organisasie ontvang.
Weens logistieke redes moes deelnemers vanjaar vooraf registreer vir Vrydag se hengelfees. Deelnemers sal Vrydag-oggend teen 07:00 aanmeld en kort na ontbyt bedien is sal die katrolle begin sing om die karps en babers te probeer uittrek.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
