Hof beveel polisie om skadevergoeding te betaal na onregmatige inhegtenisname
Mariska Batt: “Ek was maar altyd bang vir die polisie, maar nou is ek nog meer versigtig wanneer ek hulle sien.”
Die hof het Vrydag R30 000 skadevergoeding toegestaan aan ’n vrou wat in 2015 onregmatig in hegtenis geneem is.
Pretoria-landdroshof het bevind die SA polisiediens (SAPD) moet ook die regskoste betaal van Mariska Batt (26), ’n skakelbeampte by AfriForum.
“Ek is bly dat die saak nou uiteindelik afgehandel is,” het Batt Saterdag aan Rekord gesê.
Op 31 Maart 2015 is sy in Lenchenlaan, Centurion aangekeer nadat sy sowat 10 minute lank teen die verkeer in ’n eenrigting-straat gery het.
“Ons het pas by ons nuwe huis in Hennopspark ingetrek en ek het glad nie die omgewing geken nie,” sê Batt.
“Daar was geen straatligte nie en ek was heeltemal verward.”
Batt sê sy het ’n eerlike fout begaan en was benoud omdat sy vrou-alleen op die donker, vreemde pad was.
“Ek het toe mos nie geweet dat daar ’n korter pad na my huis toe was nie.”
Batt is deur Lyttleton-polisie voorgekeer en in hegtenis geneem vir “roekeloos en nalatige bestuur”.
Batt sê sy moes in die passasiersitplek van die polisievoertuig sit en het opgemerk dat die polisieman nie dadelik sy sitplekgordel vasmaak nie. Sy sê hy ook op sy selfoon gepraat terwyl hy bestuur het.
Batt is na ure in aanhouding by Garsfontein-polisiekantoor, en daarna weer terug by Lyttleton, op borgtog vrygelaat.
“As joernalis het ek al self van soortgelyke gevalle van onregmatige inhegtenisnemings gehoor – ek het net nooit gedink dat dit met my sal gebeur het nie,” het Batt aan Rekord gesê.
“Ek was maar altyd bang vir die polisie, maar nou is ek nog meer versigtig wanneer ek hulle sien.”
Batt sê sy vermy steeds Lenchenlaan.
Sy moedig mense aan om ’n saak verder te voer indien hulle onregmatig deur polisie behandel word.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
