Oud-ingenieur spoor stil reuse se stories op
Waldie le Grange kyk anders na bome. Vir hom is ’n reuseboom nie bloot ’n mooi deel van die landskap nie, maar ’n lewende stuk geskiedenis wat gemeet, aangeteken en bewaar moet word. Van Pretoria se strate tot Suid-Afrika se nasionale parke bring sy werk ons grootste bome nader aan mense.

’n Man van die Moot het dit sy besondere taak gemaak om die land se grootste en merkwaardigste bome noukeurig op te meet en te dokumenteer.
Van die boomryke strate van die Moot tot die uitgestrekte landskappe van Suid-Afrika se nasionale parke, en selfs wyer om ons buurlande in te sluit.
Waar ’n mens maklik bloot kan sê dat ’n boom ‘baie groot’ is, wil Waldie le Grange weet presies hoe groot ons boomreuse is sowel as hoe hoog hulle staan, hoe wyd boomkrone strek en hoe indrukwekkend ’n boomkampioen se stamomtrek is.
Sy liefde vir bome het besondere momentum gekry nadat hy ’n boek oor kampioenbome deur Enrico en Erna Liebenberg as ’n geskenk ontvang het.

“Wanneer ’n mens eers begin om na bome te kyk, besef jy hoeveel merkwaardige bome eintlik rondom ons staan,” is sy benadering. “Jy loop elke dag by hulle verby, maar jy weet nie noodwendig hoe oud hulle is, hoe groot hulle werklik is of watter verhaal hulle vertel nie.”
Le Grange het ’n amptelike navorsingsprojek by SANParke geregistreer. Hy het daarna die grootste bome in die Krugerwildtuin stelselmatig opgemeet en het ook metings in verskeie van die kleiner nasionale parke, onder meer die Augrabieswaterval, Bontebok, Mokala, Kgalagadi, Marakele en Mapungubwe gedoen.
Die kokerboomwoud in die Richtersveld vorm ook deel van sy belangstelling.
“Ek hou van die goudbruin kleur van kokerboomstamme en hoe hulle so afgeëts teen die lug kan staan. Daar is iets besonders aan die vorm en kleur van die boom. Dit is amper asof die boom self ’n landskap geword het.”
In Venda, naby Tshipise, het hulle die grootste kremetartboom opgemeet: ’n boom wat besondere betekenis dra as Suid-Afrika se mees indrukwekkende en grootste inheemse boom.
Sy werk vorm deel van die groter projek Groot Bome van Suidelike Afrika: Dokumentering van Ons Reuse, wat daarop gemik is om ’n omvattende digitale register van Suidelike Afrika se merkwaardigste bome saam te stel met inligting wat beskikbaar gestel word op die webwerf www.bigtrees.co.za.
Om ’n boom te meet, verg veel meer as om bloot ’n maatband teen die stam te hou. Le Grange gebruik onder meer ’n klinometer, waarmee die hellingshoek na die bopunt van die boom bepaal word. Deur driehoeksmeting word die hoogte van die boom vervolgens bereken.
Daar is ook ’n vaste punt waarop die stam gemeet word. Die stam se deursnee word op 1.3m bo die grond bepaal. Die kroonwydte word in twee rigtings gemeet: noord-suid- en oos-wes-afmetings om die gemiddelde kroonwydte te bereken.

Hy verduidelik hierdie verskillende afmetings word saamgevoeg om ’n grootte-indeks (GI) vir elke boom te bepaal.
Pretoria het volgens Le Grange ’n stedelike oerwoud van besondere bome. Een van die bekendstes is die legendariese Wonderboomvy, maar daar is talle ander wat minder bekend is.
Hy het ook die oudste jakarandaboom in Pretoria opgespoor. Dié boom is in 1888 geplant en staan in Sunnyside. In Rietondale het hy egter die grootste jakaranda gevind nadat hy doelbewus na die stad se grootste ikonise boom begin soek het.
Een van die indrukwekkendste bome op die lys van Pretoria se kampioenbome is ’n rooibloekom in Irene, met ’n GI van 383. ’n Groot kamferboom in Rietondale volg met ’n GI van 239, terwyl ’n anaboom in dieselfde gebied ’n GI van 203 het. Ook ’n apiesdoring in Wonderboom-Suid, met ’n GI van 187, behoort tot Pretoria se besonder groot bome.
In Villieria het hy onlangs ’n reuse- Engelse eik opgespoor. Volgens bronne is die boom in 1860 deur Generaal Piet Joubert op sy plaas geplant. Vanweë sy historiese waarde mag hierdie boom dalk die Moot se eerste kampioenboom wees!
“Bome bly stille maar lewende geskiedskrywers van tye en landskappe.”
– Sluit by Die Moot-projek, die metro en Waldie le Grange aan vir die aanplant van bome in twee Moot-parke in boomplantmaand in September. Hou die webwerf www.bigtrees.co.za en Die Moot Projek se sosiale media-bladsye dop vir besonderhede.


Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel