CrimeLocal newsNews

Geen rus vir helde in blou

Konstabel Adriaan du Plessis het oorgegaan tot aksie nadat hy vermeende motordiewe gewaar het.

’n Sinoville-polisieman word as held vereer nadat hy twee vermeende motordiewe se planne in die wiele gery het.

Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê konstabel Adriaan du Plessis is nie ’n man wat terugstaan wanneer kwaaddoeners toeslaan nie.

“Du Plessis was Saterdag saam met sy vrou by die Sinoville-sentrum waar hulle twee verdagtes in ’n silwer Volkswagen Polo opgemerk het,” vertel Van Dyk.

“Sy vrou het gesien hoe een van die mans uit die voertuig klim en teen die deur van ’n rooi Toyota Conquest in die parkeerterrein leun – duidelik met die doel om ongesiens die deur van die motor te probeer oopforseer.”

Van Dyk sê: “Du Plessis het met sy private motor die twee voertuie (Polo en Conquest) vasgeparkeer en uitgespring.”

Die insittende in die Polo het ook uitgespring en te voet gevlug. Du Plessis het met die ander verdagte in die parkeerterrein gestoei.

“Hy (verdagte) het homself losgeruk en ook gevlug. Polisie en Sinoville-GPF is geroep om te help en was vinnig op die toneel. Ongelukkig het die verdagtes ontsnap.”

Van Dyk sê daar is beslag gelê op die verdagtes se voertuig, asook ’n bankkaart wat in die motor gevind is.

“Die twee verdagtes kan ook moontlik verbind word met ’n vorige klag van motordiefstal by Makro.”

Die waarnemende Sinoville-bevelvoerder, luitenant-kolonel Alet Pratt, het Du Plessis vir sy toewyding en paraatheid bedank.

Lees ook:

Motorwag word ‘n held

Seun in koma reageer op pa se stem

Akasia-onderhoof sterf na maande in hospitaal

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button