WAARSKUWING – GRAFIESE INHOUD: Twee beseer na mesaanvallers toeslaan
“’n Man is in die nek met ’n mes gesteek en kort daarna is nog een vermoedelik deur dieselfde rowers aangeval.”
Twee mans is Vrydagaand erg beseer na hul vermoedelik deur sluipslapers in die Sinoville-omgewing, noord van Pretoria geteiken is.
Voorsitter van die Sinoville-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Vernon Smith, sê die eerste slagoffer is die aand, tussen 20:00 en 21:00, in Veronicastraat met ’n meswond aan sy nek gevind.
“Die man was erg beseer en kon nie veel van sy aanvallers sê behalwe dat die een ’n leerbaadjie aangehad het. Hy is na die naaste hospitaal vir behandeling gehaas.”
Smith sê die aanvallers het gevlug sonder hul slagoffer se selfoon en slegs R100 in kontant.
“Kort daarna en net ’n paar blokke verder van die toneel is nog ’n man aangeval,” vertel Smith.
“’n Sekuriteitswag in die omgewing het iemand om hulp gehoor skree. Ons lede (GPF) wat reeds die omgewing gepatroleer het, opsoek na die verdagtes betrokke by die vorige aanval, was vinnig op die toneel.”
Smith sê die sekuriteitwag het die slagoffer gehoor pleit met sy aanvallers dat hulle hom nie moet doodmaak nie.
“Die aanvallers was klaar weer weg toe ons daar kom – ook met die man se geld gevlug.”
Die beseerde man is met ernstige wonde aan sy onderlyf agtergelaat.
“Daar was vier verdagtes betrokke en ons vermoed dit is dieselfde mense wat ook die vorige man aangeval het. Die beseerde het ook die een met ’n leerbaadjie aan beskryf.”
Smith sê beide slagoffers sterk tans in die hospitaal aan.
“Sluipslapers is ’n groot probleem op plekke waar mense nie hul erwe omhein en langs groot oop velde is,” sê Smith. “Die gedrag van die aanvallers is tipies van sluipslapers wat mense op straat vir kontant teiken.”
Hy sê: “Ons doen ‘n beroep op inwoners om hul erwe te omhein en gras kort te hou sodat sluipslapers nie daar kan skuil nie. Die GPF sal binnekort weer ’n skoonmaakprojek van stapel stuur om die misdadigers se skuilings te ontbloot en hulle uit te dryf.”

Lees ook:
Mamma en baba saam ter ruste gelê
VIDEO: Seun in koma reageer op pa se stem
Akasia-onderhoof sterf na maande in hospitaal
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
