Pa van twee kinders uit motor geruk en aangerand
Die leerbaadjie-verdagte was deel van die groep wat ’n motoris in Doornpoort gekaap het.
’n Pa van twee kinders is Vrydagmiddag in Doornpoort, noord van Pretoria, deur vier kapers oorweldig.
Die 29-jarige man, wat verkies om anoniem te bly, sê hy is in Foxglovestraat uit sy motor uitgeruk en aangeval deur vier onbekende mans.
“Ek was op pad huis toe. Van Airportweg het ek ’n kortpad gekies verby die oop veld,” vertel dié Doornpoort-inwoner.
Hy sê hy het eers net twee van die mans in die veld gewaar.
“Die lugverkoeling in my motor werk nie, en ek het met die venster oop gery. Dit het so vinnig gebeur… ek het by die stopstraat gestop waar hulle my uit my motor geruk het.”
Die inwoner sê hy is langs die pad aangerand deur vier mans.
“Ek het terugbaklei en ’n paar houe ingekry voor hulle losgebreek het en met my motor weggery het.”
Hy sê een van die verdagtes was geklee in ’n oorpak, terwyl nog ’n man ’n leerbaadjie aangehad het.
Vrydagaand is twee mense in Sinoville aangerand en met messe gesteek.
Beide slagoffers het ook een van die verdagtes met ’n leerbaadjie aan beskryf.
Die gesteelde motor, ’n Renault Megane met registrasienommer: FH92XV GP, is by die Sinoville-polisiestasie aangemeld.
Lees ook:
WAARSKUWING – GRAFIESE INHOUD: Twee beseer na mesaanvallers toeslaan
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
