’n Pensionaris van Danville in die weste van Pretoria is moeg vir mense wat wegkom met diefstal.
Lydia Kirsten (66) sê sy het twee keer binne twee maande onder inbrake by haar huis in Danwegstraat deurgeloop.
Sy vermoed dat dieselfde dief agter die misdade is.
“Dit maak ’n mens so ongelukkig dat iemand dit aan ou mense kan doen,” vertel sy.
“Hy het op 24 Julie helder oordag by ons woonwa ingebreek terwyl ek en my man by die kerk was. Ons het dit by die polisie aangemeld maar niemand het ooit gekom vir vingerafdrukke nie.”
In Augustus was daar nog ’n inbraak wat ook aangemeld is.
“Dalk reken die polisie die goed wat hy steel, is te gering om ‘n ondersoek te regverdig,” sê sy.
’n Radio, tuinslang en ’n sak vol eetgerei is uit die woonwa verwyder.
“Dit klink alles baie klein, maar dit is alles goed wat vervang moet word. Dit kos ons baie geld op die einde van die dag,” sê Kirsten.
Volgens haar is die naam en adres van die vermeende dief aan die polisie gegee nadat hy op kamera vasgevang is, maar niks gebeur nie.
“Wat moet ons nog doen? Almal werk aan die saak maar niks gebeur nie. Ons het nog nie een keer terugvoer gekry nie,” sê sy.
“Dit is asof daar ‘n laksheid is. Wat my bitter ongelukkig maak is, dat hy aangekeer is maar weer vrygelaat word. En hy het nie net by ons ingebreek nie.”
Sy sê dit voel of die polisie mense in die steek laat.
“Aan die een kant vra hulle ons moet hulle oë en ore wees en dan kom word die misdadigers maar net weer en weer vrygelaat,” sê sy.
“Wat help dit die gemeenskap probeer sover moontlik om die omgewing te beveilig maar die kriminele loop vry rond net om weer te steel.”
Kommentaar kon nie dadelik van die ondersoekbeampte verkry word nie.
Lees ook:
Inwoner moeg vir Tshwane-metro
Diefstal van hond het vrou bekommerd
Sluwe vrou bedrieg nog inwoners
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Rekord Oos
Rekord Noord
Rekord Centurion
Rekord Moot
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

