CrimeLocal newsNews

Inbrekers gevang

Die verdagte inbrekers is Donderdag in Sinoville aangekeer.

Drie verdagte inbrekers het hul rieme styf geloop toe ’n GPF-lid en die polisie op hulle toeslaan.

Hulle is Donderdagoggend in die Sinoville-omgewing, noord van Pretoria, in hegtenis geneem.

Sinoville-polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê die drie is aangekeer in ’n grys-kleurige Audi A3 naby die Montana Crossing winkelsentrum.

“’n Lid van die Sinoville GPF, Henry Austin, het omstreeks 10:00 die motor sonder ’n nommerplaat in die omgewing gewaar,” sê Van Dyk.

“Hy het die motor gevolg wat skynbaar doelloos in die gebied rond beweeg het.”

Austin het polisie gevra vir bystand.

“Adjudant-offisier Chrissie Crous en Sersant Wouter Bezuidenhout was op die toneel om die voertuig met drie insittendes af te trek,” sê Van Dyk.

“Die motor is na die stasie gebring en die mans se profiele is nagegaan waar daar gevind is dat klagte van huisbrake hangende teen hulle is.”

Van Dyk sê een van die verdagtes het ook ’n uitstaande lasbrief teen hom.

Aldrie sal binnekort in die hof verskyn.

Sinoville-polisie bevelvoerder, Kolonel Johannes Ramakamakama Kekana bedank die Sinoville GPF wat polisie help in hul stryd teen misdaad.

“In besonder wil ek dankie sê aan meneer Henry Austin vir sy oplettendheid en vir Crous en Bezuidenhout wat vining op die toneel was om die motor na te gaan,” sê Kekana.

“Met die uitstekende vennootskap tussen die gemeenskap en die polisie kán en sál ons die omgewing veilig maak vir ons inwoners.”

Lees ook: 

Onderhoof veg teen inbrekers – veg nou om lewe

Vierde inbraak ruk skool

Leerlinge se tasse weg na inbraak

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button