OPVOLG: Weste in angs oor rits xeno-aanvalle
“Dit was vreesaanjaend. Ek het gesit en huil en gebid dat ons lewe gespaar sal word.”
Inwoners in die weste van Pretoria het vir hul lewens gevrees in geweld die naweek wat oënskynlik uit xenofobie gebore is.
LEES OOK: Xenophobic violence under control – ministers
“Ons het Saterdagoggend skote gehoor wat baie geklink het soos geweerskote,” vertel inwoner Shirly de Beer.
“Ons het gaan kyk wat aangaan en gesien hoe die Dolls House – bekend as ’n bordeel – in Rose-ettastraat met petrolbomme bestook word.”
Shirly en haar man Lourens woon in dieselfde straat.
Inwoners in die omgewing het nog ’n huis in die straat – blykbaar ’n dwelmnes – later die dag met petrolbomme bestook.
Albei huise word blykbaar deur buitelanders bedryf.
“Dit was vreesaanjaend. Ek het gesit en huil en gebid dat ons lewe gespaar sal word,” sê De Beer.
Die opsigter van haar woonkompleks en Shirly se suster Wilma Cilliers sê buitelanders in die kompleks was ewe benoud.
Sommiges het in ander woonstelle gaan skuiling soek.
“Die aanvallers het aan ons deure geruk en ons gedreig,” vertel Cilliers.
LEES OOK: Africans unite against xenophobia
Lourens sê die aanvallers het baie skade by hul woonkompleks aangerig.
“Hulle het ons motorhek heeltemal afgebreek. Dit het op die grond gelê,” vertel hy.
“Baie vensters is ook gebreek omdat die aanvallers ook ons gebou met klippe bestook het.”
Cilliers sê: “Ek moes nuwe slotte gaan koop vir ons agterhek. Die aanvallers het hom ook afgebreek.”
Chaos het losgebars toe inwoners altesaam sewe geboue aangeval het.
Die aanduidings is dat die aanvalle aan xenofobia toegeskryf kan word, sê ’n woordvoerder van Pretoria-Wes se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Thesigan Pillay.
Pillay sê xenofobie is nie aanvaarbaar nie.
“Hierdie dade is besig om toe te neem en herinner aan die onlangse onrus in Bremmerstraat in Booysens,” sê hy.
“Die motivering is dalk nie identies nie, maar dieselfde kultuur van onverdraagsaamheid is besig om te ontwikkel.”
Inwoners van Booysens het sowat twee dae gewelddadig betoog teen die tydelike verblyf in hul midde van ’n aantal gesinne van Atteridgeville.
LEES OOK: Acts of #xenophobia incitement will not be tolerated
Die gesinne moes verskuif word weens die ontstaan van ’n sinkgat in hul woonomgewing.
Hulle is intussen na Lotus Gardens verskuif.
Rustigheid het teen Sondag na Pretoria-Wes teruggekeer.
Polisiewoordvoerder kaptein Augustinah Selepe het bevestig dat die polisie steeds in die gebied is en sake fyn dophou.
“Ses verdagtes is in hegtenis geneem sedert die aanvalle,” sê Selepe.
Lourens, wat ook ’n lid van die GPF is, sê geboue in Court-, Rebecca- en Luttigstraat is aangeval.
“Die aanvallers het ook motorbande in Zeilerstraat aan die brand gesteek en ’n voertuig in Schuttestraat was in vlamme.”
DA-raadslid vir wyk 3, Carlo de Bruyn, het die aanvalle veroordeel.
“Ek is van plan om in die nabye toekoms ’n toer te reël waarby al die belangrike rolspelers betrokke gaan wees,” sê sy.
Die doelwit is om al die probleemgebiede te besoek en só die omgewing in ere te herstel.
“Die Dolls House gaan sonder twyfel een van ons stilhouplekke wees,” sê De Bruyn.
“Volgens inwoners het die Dolls House sy naam verkry toe dit eens op ’n tyd ’n haarsalon was.”
Die hoofstad het hom intussen Donderdag gestaal vir ’n optog om beswaar te maak teen die teenwoordigheid van onwettige buitelanders.
Dit volg na ’n vlaag van oënskynlik xenofobiese aanvalle in en om Pretoria.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




