Diepe kommer oor vervalle erf in Moot
“Ons muur is besig om te kantel omdat die grond te sag word as gevolg van die massa riool."
Ernstige kommer heers oor ’n erf in Kilnerpark in die Moot met ’n onvoltooide huis en haglike lewensomstandighede.
ALSO READ: Moot erf ‘n groot gevaar
’n Inwoner, wat anoniem wil bly, sê daar woon sowat 25 mense in die huis wat verhuur word.
Daar is ook ’n aantal houthuisies op die erf.
Weens ’n verstopte drein, borrel riool oor op die erf en loop dan in Lynettestraat af, waar hierdie erf geleë is.
Die inwoner sê daar word rommel in en om die erf gestrooi.
Die enkele munisipale drom is eenvoudig nie groot genoeg is vir die aantal mense wat daar woon nie.
Sy voeg by dat hierdie mense al ses jaar lank op die erf woon.
“Ons muur is besig om te kantel omdat die grond te sag word as gevolg van die massa riool. Ons lewe ook met ’n permanente stank wat van die erf afkomstig is,” sê sy.
“Somtyds steek hulle ook die rommel aan die brand.”
ALSO READ: Huurders leef in vrees
Die inwoner sê die eienaar het aan haar vertel dat sy kamers in die huis aan mense wat dit nie kan bekostig nie beskikbaar stel.
Die erf het ’n probleem begin word toe die huis se vorige eienaars die huis verkoop het, sê sy.
“Die huidige eienaar het opknappings aan die huis en erf begin doen, maar toe die geld opraak, los sy alles net so en laat huurders intrek.
“Die drade is nie eers klaar aangelê nie en hang los. Dit kan mos sekerlik gevaarlik wees?”
Die DA-raadslid van die wyk, Roelof Fourie, is in kennis gestel oor die erf.
Hy sê: “Omdat dit ’n private eiendom is, sal die metro eers ondersoek moet instel.
“Indien enige verordeninge oortree is, mag boetes uitgereik word.”
ALSO READ: 18 plakkershutte glo op een erf
Sou dwelms betrokke wees, sal die polisie ingeroep moet word.
Fourie sê dit is die eienaar se verantwoordelikheid om die eiendom in stand te hou.
Fourie, die munisipale plaaslike uitvoerende hoof en ander belanghebbendes het Dinsdag ’n toer deur sy wyk onderneem waartydens probleemgebiede onder die metro se aandag gebring is.
“Ek gaan die erf aan die uitvoerende hoof noem en ’n nota daarvan maak,” sê Fourie.
Die huidige eienaar van die erf, wat anoniem wou bly, het aan Rekord vertel dat sy nie meer seggenskap oor die erf het nie.
Sy sê die eiendom is in die proses is om deur iemand anders gekoop te word.
“Ek het sowat vyf maande gelede die erf aan iemand verhuur en hy het besluit om dit by my te koop,” sê die eienaar.
“Hy is in die proses om die erf te herstel en probeer alles in sy vermoë om daar skoon te maak. Een van die vorige huurders wat een van die kamers gehuur het, het baie skade aangerig.”
Die nuwe eienaar kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



