
Laerskool Voorpos vier vanjaar hul 60e bestaansjaar.
Wie sou kon dink dat die skool, wat oorspronklik opgerig is vir gebruik as ’n hoërskool en toe gebruik sou word as ’n Engelse skool, nou ’n pragtige trotse Afrikaanse laerskool in die hartjie van die Moot is?
Die skool, wat aanvanklik Waverley A.M. genoem is, het in 1957 met ’n skamele 100 leerders begin.
Op die oomblik het hulle ’n leerdertal vanoor die 800.
In 1960 is die skool se naam verander na Laerskool Voorpos en vandag spog dit met ’n pragtige biblioteek en rekenaarsentrum. Dit is een van min skole met ’n swembad.
Die skool vier al die hele jaar fees, maar Augustus was veral gekenmerk deur feesvieringe.
Die skool het toe ’n spog-revue op die planke gebring, spesiaal vir hul geskryf, naamlik Droomverkoper.
Ongeveer 350 leerders het aan die produksie deelgeneem.
Oud-Voorpos personeel en spesiale eregaste het die gala-aand saam bygewoon.
Op 19 Augustus was dit Diamantfees op die rugbyveld. Daar was vermaak vir die hele Vorie-gemeenskap.
Die dag is afgeskop deur talentvolle leerders wat gesing het, sowel as items deur die skool se pre-primêre en juniorkoor.
Oud-Vories wat tans op hoërskool is, het teruggekeer na hul alma mater om die skool te vermaak met hul talente.
Oud-leerders wat reeds bekendheid in die musiekbedryf verwerf het, het gehore ook bekoor.
Onder hulle was bekende sterre soos Jacques du Plessis, Eunice Kemp en Wynand Delport van Anders.
Jo Black het gesorg vir die hoofvertoning en later het Ablaze ook ’n draai kom maak.
Sertifikate van erkenning is oorhandig aan oud-leerders wat hulle op provinsiale vlak onderskei het.
Bekendes soos George en Geo Cronje (rugbyspelers), Burnise Silvius (prima ballerina), Jacques Boshoff (deelnemer aan die wêreld-oorplantingspele), sowel as krieketvrou, Suné Luus, is vereer.
Daar is “stoepstories” vertel deur oud-leerders.
Vorige jare se hoofseuns en -dogters het ook hul verskyning op die verhoog gemaak.
’n Lokaal is omskep in ’n museum en die skool se joernale en foto-albums vanaf 1957 is alles daar uitgepak om besigtig te word.
Die skool se besige week is afgesluit met ’n dankseggingsdiens in die skoolsaal. Die diens is deur Ds Christiaan Ackerman gelei wat ook ’n voormalige Vorie-leerder en hoofseun is.
Dit was voorwaar ’n opwindende en besonderse verjaarsdag.






