Polisie is op soek na die moordenaars van ’n man wat Donderdagoggend in sy huis naby die Heatherdale-begrafplaas in Ninapark vermoor is.
Sakkie Verster (56) is dood in sy slaapkamer aangetref.
LEES OOK: UPDATE: Murdered north man identified
Sy 16-jarige dogter en haar vriendin, wat ook in die huis was, is met kabeltoue vasgemaak – maar is ongedeerd gelaat.
Polisiewoordvoerder kaptein Rheineth Motlana sê Verster is op sy bed in ’n plas bloed gevind.
Sy hande was ook vasgebind.
“Die voorval het omstreeks 03:25 gebeur,” sê Motlana.
Verster se buurman Chris Zietsman (79) het vroeër vertel hoe die tienermeisies, nadat die rowers gevlug het met hul buit, hulself losgemaak het en geskree het om hulp.
LEES OOK: Elderly man tied up in robbery
“Ek het in die vroeë oggendure wakkergeskrik toe ek glas hoor breek,” vertel Zietsman.
“Ek het eers gedink ek droom, maar so ’n paar minute later het die meisiekinders begin gil.”
Zietsman sê hy het die twee tieners oor die muur tussen die twee erwe gehelp en die polisie gebel.
Hy reken daar was drie rowers in die huis.
“Dit lyk asof hulle agter die huis ingebreek het, anders sou my honde geblaf het.”
Motlana sê die huis is geplunder tydens die rooftog.
Die polisie-ondersoek gaan voort. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
LEES OOK: OPVOLG: Noord-moordverdagtes in hof, man verkoop kleinhoewe na vrou se dood
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
