Sommige misdade in die Moot het tydens die feestydperk gestyg.
Ancelize van der Kooi van Kilnerpark Sekuriteit sê hulle het ’n toename in huisinbrake tydens die feesseisoen ervaar.
“Die styg in huisinbrake is normaal vir hierdie tydperk. Daar is gewoonlik elke jaar ’n styging in hierdie misdaad,” sê sy.
Sy sê diefstal was ook hoog gedurende hierdie tydperk.
“Diefstal van en uit motorvoertuie en kabeldiefstal was veral volop gewees,” sê sy.
Van der Kooi sê ten spyte van dat daar ’n styging in misdaad was, het hulle ook baie suksesse ervaar.
“Dit was alles te danke aan die harde werk van reaksie-offisiere van Kilnerpark Sekuiriteit,” sê sy.
“Ons het ook goeie samewerking met die polisie, metro-polisie en die gemeenskap gehad.”
LEES OOK: Moot misdaadgroep help liefdadigheid
Pretoria Moot polisiewoordvoerder, kaptein Anton Breedt sê hulle het ’n minder besige feestyd ervaar.
“Lede het alreeds in Oktober begin voorberei om ’n veiliger feestyd te voorsien,” sê hy.
Hy sê verskeie operasies is van Oktober tot Desember uitgevoer, waaronder geïntegreerde spanne van metro-polisie, plaaslike veiligheidsmaatskappye en Moot GPF betrokke was.
“Die eindresultaat was die vermindering in eiendomsverwante misdade,” sê hy.
Breedt sê huisinbraak, diefstal van en uit motorvoertuie het gedaal tydens die feesseisoen.
Hy sê hoë sigbaarheid was een van die prioriteite by inkopiekomplekse gedurende dié feestyd.
“Inkopiesentrums is sedert middel Desember baie vol,” sê hy.
“Dit maak hulle soms kwesbaar, weens die groot hoeveelheid geld vir inkopies en bonusse wat aan individue en werknemers betaal moes word.”
LEES OOK: Misdaadsyfers stabiel in die weste
Breedt sê personeellede is ook op hoë waarskuwing geplaas met parkeerareas wat oorvol was met voertuie en eienaars wat steeds waardevolle items in hul voertuie laat en steeds onkundig is oor die misdaad wat om hulle gebeur.
“Ook meer druk is op motorwagte geplaas sodat hulle kan help soek na verdagte mense of voertuie.”
Hy sê in die laaste dae van 2017 het dierliefhebbers die ergste deel van die jaar beleef – die gebruik van vuurwerke.
“Ten spyte van verskeie bewusmakingsveldtogte en inligting wat aan die gemeenskappe in nasionale koerante oorgedra is, het inwoners nog steeds vuurwerke afgevuur,” sê hy.
“Dit het veroorsaak dat die polisie ’n groot hoeveelheid vuurwerke in openbare parke gekonfiskeer het.”
Hy sê hierdie vuurwerke sal aan die staat verbeur word en later deur die polisie-eksplosiewe eenhede vernietig word.
Breedt sê operasies sal deurlopend en diep in die nuwe jaar voortduur.
Villieria-polisiewoordvoerder kaptein Coba Brits sê algemene diefstal, eiendomsverwante misdade is aangedui as die misdade wat in 2018 aangespreek moet word.
Sy sê soos in 2017, sal die hulpbronne en sigbare patrollies na die misdaadsones-gebiede herlei word.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
