Marcato maak golwe onder Pretorianers
Marcato gaan binnekort in Pretoria te sien wees. Moet nie hierdie talentvolle groep misloop nie.

“Vrede vir almal…” Dis die leuse van belowende akoestiese rock groep Marcato, wat tans besig is om groot opslae in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te maak.
Pieter, Ben, Jerry, Erik en Euan betower hul aanhangers al vir 10 jaar en beplan nie om hul droom vinnig te staak nie.
“Ons het hierdie pad begin stap toe ek en Ben mekaar ontmoet het toe ons albei studeer het om klankingenieurs te word,” verduidelik Pieter laggend.

“Musiek was en is in ons bloed. Ons het eers probeer om ’n ‘heavy metal’-groep te maak werk. Met ’n skok het ons agtergekom daar is nie veel van ’n toekoms in daardie genre nie. So het ons begin eksperimenteer met akoestiese klank en hier sit ons 10 jaar later.”
Marcato is vreeslik populêr onder Pretoriase skares en verkies om oor Desembervakansie te toer by Gautengers se gunsteling vakansieplekke.
“Musiek is vir ons vakansie. Dis lekker. Ons doen nogal goed in die seedorpe waar almal vakansie hou,” sê Pieter.
LEES OOK: ‘n Splinternuwe Afrikaanse klank
“Soos ons laaste album, Vrede vir Almal, sê: ons wil net mense gelukkig maak met ons musiek,” verduidelik Ben. “Mense moet dit geniet, dans op ons musiek, die doel van ons musiek om om mense te kry om vrede in hul omgewing te vind.”
Twee van die lede hou hulself besig met studies. Ben studeer wiskunde en wetenskap en Erik bedryfsielkunde. Euan hou daarvan om aan ander mense die kuns van instrumente te leer.

“Ek en twee ouens wat destyds saam my studeer het, probeer groot groepe van ongeveer 500 mense wat meer wil leer van musiek maak, op ’n slag bymekaar te kry. Ons leer hulle die fondasie van dromme,” sê Euan.
Die groep verduidelik dat die Suid-Afrikaanse musiekbedryf baie uitdagend is en dat daar elke dag baie hard gewerk moet word om jou naam daarbuite te kry.
“Ons kompeteer met baie ander ‘pop’-groepe in ons land. Ons styl is effe anders as waaraan meeste gewoond is; ons is nogal ’n outentieke groep met unieke idees. Maar om jouself eers in die bedryf te kry, moet jy speel wat die mense wil hoor en ongelukkig aan die begin sluit dit baie ‘cover songs’ in,” verduidelik Ben.
LEES OOK: Die Sallas agter die silwerdoek
“Vandag kan ons bietjie meer kieskeurig wees en ons eie musiek skryf en sing.”

Marcato is regoor Pretoria te sien en tree baie op by Atterburyteater en die Bosvelder in Centurion. Die groep gaan binnekort by Tiger’s Milk Lynnwood Bridge optree en lok skares na plekke soos Weiveld en Brooklyn Brothers.
Marcato droom van die Ghoemas en wil graag ’n Afrikaanse album bekendstel. Die groep besoek België en Nederland binne die volgende paar maande en sien daarna uit om vir Suid-Afrikaners in daardie lande te speel.
CD’s is nog nie in winkels beskikbaar nie, maar verkoop soos soetkoek by hul vertonings. Gaan luister gerus na die vele talente van Marcato op iTunes, Google Play, op hul webwerf, op Facebook, en op YouTube.
Vir besprekings, stuur ’n epos na pieter@legatoartists.co.za
Marcato praat met Rekord lesers:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
