CrimeNews

Verneukspul met huise neem toe in die Moot

“Ek en my vrou was opsoek na ander blyplek gewees, toe kom ons op ’n advertensie af van ’n huurhuis in Capital Park vir R6 500 per maand.”

’n Verneukspul met eiendomme is weereens besig om sy kop in die Moot uit te steek.

’n Egpaar van Villieria is onlangs met ’n slap riem gevang toe hul gereageer het op ’n aanlyn-advertensie vir ’n huurhuis in Capital Park.

“Die huurhuis was geadverteer vir ’n skamele R6 500 per maand,” vertel Riaan Muller.

“Ons het dus die ‘eienaar’ gebel en hy het homself voorgestel as Neil.”

Neil het Muller vertel dat die huis nog steeds beskikbaar was.

LEES OOK: Wees versigtig vir ‘n skaap in wolfklere

Muller sê hulle het daarna weens ’n swak sein per WhatsApp onderhandel.

Hy sê Neil het homself as ’n veearts voorgegee en gesê hy is in die veld, besig met wild.

“Na ’n baie lang uitgerekte saak om tot ’n ooreenkoms te kom, het Muller gesê dat hy nie meer belangstel in die huurhuis nie.

“Neil het toe gesê dat ek hom ’n sleutel- en kontrakfooi moet betaal; ons kon later oor die deposito gesels wanneer hy terug was in Pretoria,” sê hy.

“Die aanvanklike bedrag was R2 000, maar hy het gesê ons moet helfte-helfte gaan. Ek kon R1 000 betaal en dan sou hy R1 000 gee om die kontrak deur sy prokureur te laat op stel.”

Muller sê Neil het daarop aangedring dat hulle die geld by SPAR moet inbetaal, waarna die sekuriteitsmaatskappy die sleutel by Muller sou aflaai.

Nadat Muller die geld inbetaal het, kon hulle egter nie Neil in die hande kry nie. Ná vele WhatsApp-boodskappe het Muller-hulle hul geld teruggevra.

LEES OOK: Hy is nou die oudste werkende loodgieter in Pretoria

Hy sê Neil het toe vir hul bankbesonderhede gevra, maar Muller het geëis dat dit weer deur SPAR terugbetaal word.

“Neil het gesê hy het iemand gestuur om die betaling te maak, want dis moeilik om iets vanuit ‘Kgosi’ te reël.”

Muller sê hulle was al moedeloos. Hulle het Neil ingelig dat hulle besig was om sy selfoon- en landlynnommer na te volg.

“Ek het ook gesê dat ek hoop hy word toegesluit, waarop Neil toe geantwoord het dat hy reeds in Kgosi Mampuru-korrektief is.”

“Ek het toe besef dat ek nooit my geld sal terugkry nie.”

Muller en sy vrou is na die eiendom toe en het met die bure gesels.

“Een van die bure het gesê dat daar al heelwat mense na die plek kom kyk het en ’n soortgelyke deposito betaal het,” sê hy.

Volgens die bure was die huis in die mark gewees, en is deur ’n eiendomsagentskap verkoop.

“Neil het die foto’s van die eiendomsagentskap se webwerf gaan af steel en dit net so geadverteer,” sê hy.

Muller sê hy hoop sy storie skep bewusmaking.

LEES OOK: Spate of gate motor thefts in the Moot

“Inwoners moet besef dat ’n verneukspul verskriklik maklik gebeur,” sê hy.

Rekord het twee weke gelede berig dat ’n nuwe soort slenter om inwoners van hul huise te beroof, ook sy kop in Capital Park uitgesteek het.

“Sodra ’n huis te lank leeg staan, kry misdadigers toegang tot die huis,” sê GPF voorsitter, Mark Gray.

“Hulle trek dan al hul besittings in die huis in en as die eienaar kom vrae vra, beweer hulle dat hulle die huis by ’n agentskap huur.”

Maar, Gray het Maandag aan Rekord vertel dat die misdadigers wat een só ’n huis oorgeneem het, teen die einde van die maand uit sal trek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button