Raaisels is al wat oorbly vir ’n ma van Kilnerpark, nadat haar dogter verlede jaar dood is.
Die ma van Dianne Rose Ayres het onlangs met Rekord oor die dood van haar dogter gepraat.
LEES OOK: UPDATE: No arrests yet in fatal N1 hit-and-run
Rose sê sy het haar dogter vir die laaste keer op 29 November gesien.
Sy sê Dianne se vriend het daardie dag by haar gekuier.
“Hy was ’n jarelange vriend van haar,” sê sy.
Dianne het vroeër die dag ’n begrafnis van ’n vriend bygewoon. Sy was klaarblyklik hartseer en wou ’n entjie gaan stap.
“Dit het alles só vinnig gebeur. Een oomblik was sy daar, die volgende oomblik is sy weg,” vertel sy.
Rose sê al wat van Dianne agtergelaat is, is die skoene wat sy aangehad het en haar handsak.
“Toe Dianne só skielik verdwyn het, het ek oral na haar gesoek,” sê sy.
“Ek het die strate op en af geloop op soek na haar.”
Op 5 Desember het Rose die nuus ontvang van haar dogter se dood.
“Die polisie het na my huis toe gekom en gevra ek moet haar kom uitken,” sê sy.
“Ek kon Dianne slegs uitken deur ’n tatoeëermerk op haar been.”
LEES OOK: UPDATE: Moot woman found dead – described as loving person
Rose sê volgens Dianne se doodsertifikaat en nadoodse ondersoekverslag is sy reeds op 30 November dood verklaar.
Dianne se lyk is verlede jaar op die N4-deurpad naby ’n brug in die Moot gekry.
Villieria polisiewoordvoerder kaptein Coba Brits het voorheen gesê ’n tref-en-trapongeluk is vermoedelik te blameer vir haar dood.
“’n Nadoodse ondersoek dui daarop dat sy dalk raakgery is,” het sy gesê.
Enigiemand met inligting word gevra om Villieria-polisie dringend te skakel.
Sedert Dianne se lyk gekry is, is daar tot dusver min vordering gemaak met die ondersoek na haar dood.
“Dit is vir ons as ’n familie nog steeds moelik om haar dood te verwerk. Niemand is al in hegtenis geneem nie,” sê Rose.
“Haar hond dra gereeld goed uit haar kamer uit. Na haar dood het hy by die deur gestaan en huil. Hoe sê mens vir ’n hond sy ma kom nie terug nie?”
Rekord het verlede week berig dat die polisie nog steeds vir die nadoodse histologie- en toksikologieverslae wag.
Rose beskryf haar dogter as ’n liefdevolle mens.
“Dianne het ontsaglike groot passie en liefde vir die lewe gehad,” vertel sy.
“Ek sê altyd vir mense dat sy nie perfek was nie. Sy het haar foute gehad soos enige ander mens, maar sy was liefdevol en saggeaard.”
Dianne was ’n spookskrywer.
“Sy het haarself in haar werk ingelewe,” sê Rose.
“Ek moes haar baie keer dwing om net ’n breuk te neem.”


LEES OOK: OPVOLG: Moot-vrou dalk raakgery
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
