Centurion-sanger se enkelsnit haal plaaslike radiostasie se top-10
Destyds met die opname van die musiekvideo, was Elmé reeds drie maande swanger, maar omdat die paartjie sewe jaar vir hulle 'klein wonderwerkie' probeer het, het hulle besluit om die nuus vir eers 'n geheim te hou.

Die sprankelende en babbelbek Afrikaanse sanger van Centurion, Elmé Churr se enkelsnit, “Kos vir siel” het Lekker FM 98.3 se top-10 vanweek gehaal.
Hoewel sy Dinsdag amper niks geslaap het nie omdat haar ses-weke-oue baba, Luke Benrich Churr haar deur die nag wakker gehou het, vertel sy die liedjie se sukses maak dit baie spesiaal.
“Die liedjie is spesiaal vir Luke geskryf,” sê Elmé.
Die musiekvideo speel op ’n plaas af waar ’n jong getroude paartjie ’n stukkie onbewerkte grond koop.
Na baie harde werk en totale vertroue op God besluit hulle om uiteindelik te begin plant, maar die grond bly droog en niks wil groei nie.
Na ’n lang droogte begin dit reën en die wêreld van die paartjie verander van dor en bruin na immergroen en versadig.
Destyds met die opname van die musiekvideo, was Elmé reeds drie maande swanger, maar omdat die paartjie sewe jaar vir hul ‘klein wonderwerkie’ probeer het, het hulle besluit om die nuus vir eers ’n geheim te hou.
“Ek het ’n droom gehad waarin die Here met my gepraat het en vir my gesê het dat dit die liedjie se naam moet wees. Die volgende oggend het ek op die mat gaan sit en begin skribbel. Dit was ’n ongelooflike pad wat ons met die Here gestap het en ons is ongelooflik bevoorreg om ouers te wees,” vertel sy.
Verlede week was die treffer nommer-ses, maar vandeesweek is haar liedjie vierde op die lys.
Luke Benrich Churr is die oggend van Woensdag, 17 Junie gebore.
“Jy is perfek! Mamma en pappa het jou so lief,” het Elmé geskryf.
Luke sal Vrydag sewe weke wees.
Met sy geboorte het hy 2,85kg geweeg en na ses weke het amper 2kg opgetel.

Elmé het ’n liedjie geskryf terwyl sy nog swanger was met Luke en elke dag vir hom gesing. Die liedjie is egter nog nie vrygestel nie.
“Sodra Luke ouer is, wil ek baie graag ’n musiekvideo van die liedjie opneem.
“Ek was nou die oggend so suur gewees. Die eerste persoon vir wie klein Luke geglimlag het, was sy pa. Ek is die een wat sy doekies moet ruil en hom melk gee,” lag Elmé.
“Ek het soveel liefde vir Luke en hy is die soetste baba. Ek sal ‘nog 10’ kinders wil hê,” skerts Elmé.
Die Churr-gesin se vierpotige kinders is gek oor Luke en gee die klein seuntjie baie liefde.
Lekker FM se top-10 vir die week sluit kunstenaars in soos Brendan Peyper, Tussen Sterre, Leon Gropp, Karlien van Jaarsveld, Zaan Sonnekus, Juanita du Plessis, Len Muller, Taye Brink en Kyle Grant SA en Demi Lee Moore.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
