Local newsNews

Vindingryke animasie-video verdryf Covid-19 vrese

Die video word op WhatsApp vir pasiënte voor hul eerste besoek gestuur.

‘n Plaaslike tandarts het besluit om met kort animasie-video’s pasiënte se vrese vanweë die Covid-19-pandemie finaal te besweer.

Dr. Gert Morkel se 34-jaar ervaring as praktiserende tandarts in Brooklyn en Pretoria-Tuine het handig te pas gekom toe hy tydens die inperking kreatief en innoverend oor die rol van tandartse begin nadink het.

“Tydens vlak 5 was ons drie tandartse saam in een huis. Ek, my vrou dr. Yolanda Gous en my seun Marius het almal koppe bymekaar gesit oor hoe ons pasiënte meer gerus kan stel. Baie mense is reeds angstig om tandarts toe te gaan, maar met Covid-19 het almal se vrese toegeneem.”

As jong student het Dr. Morkel sy eie videoproduksiemaatskappy as stokperdjie begin en later inligtingsvideo’s vir medici vervaardig wat spesifieke mediese prosedures aan pasiënte verduidelik. Na deeglike navorsing, het hy die Suid-Afrikaanse Tandheelkundige Vereniging se Covid-19 riglyne geneem en begin werk aan ‘n unieke animasie-video.

“Die kort video wys watter stappe tandartse neem om hul pasiënte te beskerm, watter toerusting vir persoonlike beskerming deur tandartse en hul assistente tydens besoeke gedra word, die onkoste hiervan en natuurlik enige spesifieke instruksies aan pasiënte wanneer hulle vir ‘n besoek opdaag,” verduidelik Dr. Morkel.

Die video word op WhatsApp vir pasiënte voor hul eerste besoek gestuur. Die video animasie-projek is ‘n wegholsukses en verskeie tandartse het praktyk-spesifieke video’s by Dr. Morkel bestel.

LEES OOK: Police K9-unit hit by virus

“Die terugvoering wat ons op sosiale media hieroor kry, is oorweldigend,” sê hy. Hy skryf die sukses van die video’s aan die persoonlike aanslag van elke animasie toe. Elke video beeld die spesifieke tandarts en sy/haar praktyk as karikature uit en stel die tandarts se individuele opdragte visueel ten toon.

‘n Opkomende kunstenaar van die Wes-Kaap, Kayla Tait, is deur Dr. Willie Bouwer, senior dosent en hoof van 3D-animasie by Prestige Academy in Bellville, aanbeveel om die karikature te teken.

“As derdejaarstudent moes Kayla industrie-ervaring opdoen. Sy het ‘n natuurlike aanvoeling en talent om animasie-karakters te skets. Sy kon dus maklik die verwysingsfoto’s van die tandartse weergee in kunstige grafiese karikature,” verduidelik Dr. Bouwer.

“Dit was ?n wonderlike ervaring om Dr. Morkel te help,” sê Tait.

“Ek is mal oor die eindproduk en ek is bly my harde werk het vrugte afgewerp.”

Nie net is medici met Dr. Morkel se video’s tevrede nie, maar pasiënte gons oor hoe hy tegnologie en sosiale media gebruik om met pasiënte te kommunikeer. Lana Wessels, ‘n pasiënt van Wonderboom-Suid, prys sy vindingrykheid.

“Ek dink die hele aanbieding is absoluut briljant! Ek is verstom dat hulle dit gedoen het. Die mannetjie wat hulle geteken het lyk net soos Dr. Morkel. Ek het vir hom ‘n boodskap gestuur om te sê dis kolskoot.”

Soortgelyke animasie inligtingsvideo’s kan vir die publiek en mediese professie baie waardevol wees.

LEES OOK: 27 virus cases, 1 death at Weskoppies

“Dit is onteenseglik bewys dat animasie-video’s ongelooflik help om inligting effektief te kommunikeer. Almal wat bewus is van inligtingsplatforms soos Ted-Ed sal saamstem dat visuele kommunikasie, veral met behulp van animasie, die mees doeltreffendste manier is om inligting oor te dra,” beklemtoon Dr. Bouwer.

Dr. Morkel se raad aan die publiek asook ouers met klein kindertjies wat tydens Covid-19 tandarts toe moet gaan, is dat hulle gerus moet voel.

“Voel veilig tydens jou besoek. Tandartse doen baie moeite om by die reëls te hou om pasiënte te beskerm. En moenie vir jou tandarts skrik as hy lyk asof hy maan toe gaan nie,” skerts hy. Vir meer inligting hieroor kan lesers Drs. Morkel en Gous Tandheelkundige Praktyke se Facebookblad besoek by Dr Morkel Facebook.

Facebook-skermgreep: Die animasie-video waarin spesifieke instruksies aan pasiënte deurgegee word.
Facebook-skermgreep: Toerusting vir persoonlike beskerming wat tandartse tydens die pandemie moet dra.
Dr. Gert Morkel wys die video-animasie aan sy twee assistente, Charlene Visagie (middel) en Isolde Vermaak (regs).

Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button