Henrico Coetzer – SA musiekbedryf se nuwe sangsensasie
“Hoor My Woorde” is ’n pragtige popverwerking, met ’n ritmiese aanslag, waarmee die sanger graag vir die land wil wys wie hy is en dat hy vuur en vlam is oor die toekoms.

Die man met ’n besondere stem, Henrico Coetzer het nie op hom laat wag nadat hy die kykNET-talentkompetisie Maak My Famous verlaat het nie. Baie aanghangers was ontsteld toe hy die program verlaat het, maar hulle kan nou gretig naderskuif, want Henrico het pas sy nuwe enkelsnit “Hoor My Woorde” vrygestel.
Die 27-jarige sanger van Pretoria se unieke fluweelstem is die perfekte pasmaat vir hierdie opgewekte Afrikaanse snit wat spesiaal vir hom geskryf is.
“Hoor My Woorde” is ’n pragtige popverwerking, met ’n ritmiese aanslag, waarmee die sanger graag vir die land wil wys wie hy is en dat hy vuur en vlam is oor die toekoms. Alhoewel hy al sy hele lewe lank sing, het hy eers in 2020 werklik bekendheid verwerf as deelnemer van die tweede seisoen van Maak My Famous.
LEES OOK: Centurion-sanger se enkelsnit haal plaaslike radiostasie se top-10
Liefhebbers van die gewilde Blouhond-teater in Pretoria, sal hom ook herken, aangesien hy gereeld daar opgetree het in die verlede. Verder was hy ook deel van die ensemble in die musiekblyspel Droomkind waarin Bobby van Jaarsveld die hoofrol vertolk het.
Hy het ook al saam met Corlea Botha opgetree by Emperor’s Palace en is ’n gereelde gesig by musiekfeeste en konserte regoor die land. Oor sy nuwe enkelsnit, sê Henrico die volgende: “Dit is ’n lekkerluister Afrikaanse liedjie met ’n diep storie.
Dit gaan oor hoe dit nóú my tyd is. Al was daar teleurstelling, veral met my wat uitgeval het uit Maak My Famous, gaan dit my nie onderkry nie. Ek is reg vir die bedryf, ek gaan my alles gee en die beste ‘ek’ wees wat ek kan. Dit is ’n lied van hoop.
“Ek het vir Vaughan (Gardiner) presies gesê wat my doel met die liedjie is. Dis nou die tyd om te wys wie ek is, met ’n liedjie wat my ferm in die kollig kan hou en hy het presies dit geskryf!”
“Hoor My Woorde” is sy derde enkelsnit en volg in die suksesvolle voetspore van sy vorige treffer “Soos Reën” wat bo-aan verskeie radiostasies se treffersparades gepronk het.
Dit is ook sy eerste nuwe vrystelling na die uitreiking van sy tweede album Dis wie ek is… in 2015. Henrico, wat al van skooldae af sing, klavier speel en liedjies skryf, het altyd geweet dat hy eendag ’n musikant wou word en het gereeld vertonings aanmekaar gesit wat hy en sy sussie moes opvoer.
Alhoewel hy voorheen al aan verskeie talentkompetisies deelgeneem het, is hy bly dat hy nooit moed opgegee het nie en besluit het om in te skryf vir Maak My Famous, wat hy beskou as een van die hoogtepunte van sy negejaar-loopbaan in die musiekbedryf.
Josh Groban, Tarryn Lamb, Elvis Blue, Adéle en Corlea Botha is almal kunstenaars vir wie hy groot bewondering het, omdat hy dieper storievertellersmusiek geniet. Hy sou ook nog graag eendag ’n duet saam met Tarryn wou opneem.
LEES OOK: Len Muller se hoendervleismooi nuwe enkelsnit
As hy enige ander beroep moes kies, sou hy graag ’n reisprogram wou aanbied en so die wêreld sien. Tans is hy druk besig om liedjies te skryf en te werk aan materiaal vir sy lewendige optredes.
“Ek sal baie graag ook meer gereeld wil teruggaan Kaap toe om my nuwe ondersteuners te vermaak,” sê hy. Henrico wil graag vir hom ’n permanente plek vestig in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf.
“Hoor My Woorde” is beslis ’n stap in die regte rigting en die hoopvolle boodskap sal aanklank vind by enigiemand wat motivering nodig het in moeilike tye.
Die liedjie gaan nie net diep spore in die harte van luisteraars trap nie, maar is ook die begin van ’n splinternuwe hoofstuk in dié musikant se loopbaan.”
Vir meer inligting oor Henrico Coetzer, waar hy optree en hoe om sy musiek in die hande te kry, besoek gerus sy sosialemediaskakels:
Facebook: https://www.facebook.com/HenricoCoetzerOfficial
Instagram: @henrico_coetzer_official
Twitter: @Henrico_Coetzer
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
