Taalman vereer met ATKV-erelidmaatskap
As jare lange voorsitter van die ATKV-tak Centurion en voormalige lid van die ATKV-direksie het hy ’n reuse bydrae tot die ATKV-takstruktuur gelewer.
Onderwyser, taalman en ATKV-takvoorvatter, Sakkie Kotze is op 28 Oktober 2020 vereer met ATKV-erelidmaatskap.
Kotze is ’n bekende gesig as jare lange voorsitter van die ATKV-tak Centurion en voormalige lid van die ATKV-direksie. Hy het ’n reuse bydrae tot die ATKV-takstruktuur gelewer. Hy is ook ’n vrywillige taal- en kultuurwerker.
Die ATKV het lewenslange erelidmaatskap aan hom toegeken vir sy onbaatsugtige bydrae tot die ATKV.
Sy Afrikaans-onderwyser by Helpmekaar, mnr. Louis Malan, se mooi taalgebruik, puik lesaanbieding en toneel- en revueprojekte was destyds ’n groot inspirasie.
“My liefde vir ons taal en kultuur het al op skool begin. Ek was toe al ’n entoesiastiese ATKV-deelnemer, ook daarna as student, as onderwyser en in die gemeenskap by die ACSV, Voortrekkers, Staatmakers, Landsdiens, Volksang en Volkspele.
“Ek was Skakeldraer van die Staatmakers en het al die kommando’s op die hoofbestuur van die Voortrekkerbeweging verteenwoordig. So het ek ook die volkspele-laers by ons universiteit- en kollegekampusse op die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele verteenwoordig. Ek was self ook laerleier van verskeie volkspele-laers,” het Sakkie aan Rekord verduidelik.
Ná sy onderwys-opleiding het Sakkie in 1972 begin skoolhou by sy alma mater, en was sy eertydse rolmodel sy kollega. Tydens sy onderwysloopbaan was Sakkie vakhoof vir Afrikaans, adjunkhoof, skoolhoof en uiteindelik inspekteur van onderwys. Hy het elke geleentheid aangegryp om sy passie vir Afrikaans uit te leef en oor te dra.
As onderwyser het kwessies soos moedertaalonderrig, gehalte-onderwys en leierskap hom nog altyd na aan die hart gelê, en hy was ook die Suid-Afrikaanse adviseur vir ’n Amerikaanse onderwys-ondersteuningsmaatskappy.
Read More: Gewese Bloubul voorryman oorlede
“Ek was lid van ’n taal- en kultuurpaneel van Radio 2000 tydens ’n reeks praatjies oor ‘Ons leer mekaar se taal en kultuur ken’. Ek was ook beoordelaar by verskeie praatsaamkompetisies in Afrikaans, Engels en van ons land se swart tale,” vertel hy.
“Daarna was ek was lid van verskeie besprekingspanele wat op RSG, Radio Namakwaland en Radio Rippel oor ‘Die stand van Afrikaans’ deelgeneem het.
“My eie liriek ‘Ek praat jou taal’ is in ’n gr. 4 Afrikaanse leerboek vir laerskole opgeneem.”
In 1993 het Sakkie hom by die ATKV-tak Centurion aangesluit. Hy is in 1997 as takvoorsitter verkies, en het die tak daardie jaar by die ATKV-kongres verteenwoordig waar hy as lid van die ATKV-direksie verkies is.
Onder sy leiding het die ATKV-tak Centurion verskeie takprojekte aangepak, soos die stigting van die Centurion Musiekforum wat bestaan uit sangers, saag-, konsertina-, mondfluitjie- en trekklavierspelers.
Dié groep het onder meer musiek gemaak by ATKV-oorde en -takke, skole, kerke, outehuise, die Erfenisfees, Aartappelfees, Willem Prinsloo Landboumuseum en Pretoriaskou.
’n Ander takprojek “Ons passie vir Afrikaanse passies, musiek en liriek” is aangebied by die ATKV-kongres, die Voortrekkermonument en op die SABC-verhoog by die KKNK. Die tak het ook deur die jare verskeie sangkompetisies en werkwinkels vir sangers en liedjieskrywers aangebied.
Die Vlam vir Afrikaans-projek by die Erfenissentrum van die Voortrekkermonument het amptelik op 8 Mei 2016 begin toe die bekende Suid-Afrikaanse opera-sangeres Mimi Coertse die vlam aangesteek het.
Die vlam brand steeds en is al deur honderde belangstellendes besoek. Verskeie gedenkplate is ook onthul om hoogtepunte uit die Afrikaanse geskiedenis, soos die eerste amptelike erkenning van Afrikaans as taal (1925), die eerste Afrikaanse Bybelvertaling (1933), die eerste Afrikaanse radio-uitsending (1937) en die eerste Afrikaanse TV-uitsending (1976) te gedenk.
“Ek praat en skryf, sing en lees, hoor en leer, dink en droom, bid en glo in my eie moedertaal: Afrikaans,” sluit Sakkie af.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
