Local newsNews

Afrikaans is steeds nuttig, al verengels die land

Merlyn van der Rheede – Projekbestuurder, Afrikaanse Taalraader, skryf

Merlyn van der Rheede – Projekbestuurder, Afrikaanse Taalraader, skryf

Wie, sou jou dogtertjie of seuntjie sê, is die mees invloedryke vrou in hul lewe? Die kanse is goed dat dit hul mamma is.

Moet jy jou kind in hul moedertaal Afrikaans grootmaak, of is dit beter om hom of haar van die begin af in Engels te laat skoolgaan? Is Engels werklik die universele taal wat mense toegang gee tot beter werksgeleenthede?

Dis van die vrae wat aan die orde van die dag gekom het tydens die Taalraad se Vrouedagwebinaar met die tema “Afrikaans as ’n waardevolle hulpbron – selfs al verengels die skole en universiteite”. Vrouens, spesifiek mammas, kom dikwels voor moeilike besluite te staan en moet daarom bedag wees op hul keuses en die gevolge van hierdie keuses.

Vrouens het soveel invloed op die vorming van hulle eie kinders en dié van ander vroue in die gemeenskap. In die meeste gevalle spandeer mammas die meeste tyd met die pasgeborene en byna al baba se ervarings word deur mamma en pappa geskep en gevorm. Tydens die eerste lewensjare reageer die kind se brein goed op stimulasie. Hulle leer sommer maklik tale aan en om te praat en te lees. So, wat is dan die beste opsie vir jou kind? Om hom of haar in die moedertaal te laat skoolgaan of in Engels?

Moedertaalonderrig gaan om die bemagtiging van mense; daar is dikwels ’n direkte verband tussen die ekonomiese ontwikkeling van gemeenskappe en die mate waartoe hul taal ontwikkel het. Tale speel ’n belangrike rol in die daaglikse lewens van mense, nie net as kommunikasiemiddel nie, maar ook as deel van hul identiteit, kultuur en tradisies.

Akademici is dit eens dat begrippe die beste in die moedertaal oorgedra word, veral in die grondslagfase. Te vroeë oorskakeling na ’n taal wat nie die moedertaal is nie, kan katastrofies wees, en hierdie kinders sukkel in die meeste gevalle om by te hou by die kinders wat onderrig in hul moedertaal ontvang.

Die ontwikkelingsvlak van ’n kind se moedertaal is ’n sterk voorloper vir die aanleer van ’n tweede of derde taal, aangesien begrippe dan makliker van die moedertaal na ander tale oorgedra word.

Tydens hierdie aanlyn seminaar, wat met Vrouedag saamgeval het, is ons andermaal daaraan herinner dat die taal wat kinders by hul moeders hoor, hul emosies, kritiese denke en vaardighede vir meertaligheid vorm en dat moeders daarom sentraal staan in die debat oor moedertaalonderrig. Hoe verarmend is dit nie om slegs één taal magtig te wees nie?

Die ouer wat verkies dat sy of haar kind in sy moedertaal skoolgaan, moet geloof word, want so verseker hulle die vestiging van meertaligheid. Die Taalraad is dit eens dat ons inheemse tale en meertaligheid bevorder moet word.

Meertaligheid gee betekenis aan jou lewe, want dit skep nuwe geleenthede en stel jou in staat om na ander mense uit te reik. Met ander woorde, dit dien as ’n brugbouer om ’n beter toekoms vir al die land se kinders te skep. Meertaligheid en die ontwikkeling van die inheemse tale behoort ’n prioriteit vir die regering te wees.

Dis ’n mite dat Afrikaans minderwaardig is. Afrikaans word deur 6,8 miljoen mense gepraat en is die derde grootste taal in Suid-Afrika naas Zoeloe. Ek is oortuig daarvan dat Afrikaans ’n hulpbron van onskatbare waarde is, al verengels skole en universiteite. Die taal is in ons hande. Neem eienaarskap van jóú taal!

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button