News

Sonitus-oudleerder verwerf nasionale titel

Marle Lubbe, ’n voormalige leerder van Sonitus Skool in East Lynne, is as Mev. Dowe Suid-Afrika 2026 gekroon. Sy wil haar titel gebruik om bewustheid oor die dowe gemeenskap te bevorder en groter insluiting, begrip en gelyke geleenthede in Suid-Afrika aan te moedig.

’n Oudleerder van Sonitus Skool in East Lynne en ouma van drie, Marle Lubbe (48), is as Mev. Dowe Suid-Afrika 2026 gekroon.

Lubbe, ’n Mootinwoner, beskryf haarself as iemand wat passievol is oor die bemagtiging van die dowe gemeenskap en die skep van groter bewustheid en insluiting vir mense met gehoorverlies.

Sy sê haar missie is om as stem vir die dowe gemeenskap op te tree en groter begrip, insluiting en gelyke geleenthede vir mense met gehoorverlies in Suid-Afrika te bevorder.

Volgens Lubbe was haar besluit om aan die kompetisie deel te neem gemotiveer deur haar begeerte om ’n platform te vind om die dowe gemeenskap te verteenwoordig.

“Ek het deelgeneem omdat ek graag ’n stem vir die dowe gemeenskap wil wees en ander jongmense wil inspireer om trots te wees op wie hulle is. Ek wil wys dat doofheid nie ’n beperking is nie, maar deel is van ’n unieke identiteit en kultuur waarop ons trots kan wees,” sê sy.

Marle Lubbe, Mev. Dowe SA 2026 Foto: Elize Parker

Sy glo haar eie lewenservaring het haar voorberei vir die verantwoordelikheid wat met die titel gepaardgaan.

Een van die belangrikste oomblikke in haar lewe was toe sy geleer het om haarself ten volle te aanvaar en trots te wees op haar identiteit as ’n dowe persoon.

“Dit het my geleer om selfvertroue te hê, vir myself op te staan en ander te help om hul eie waarde raak te sien,” sê Lubbe.

Vir haar beteken bemagtiging dat dowe mense die geleentheid moet kry om hul volle potensiaal te bereik en gelyke toegang tot alle sfere van die samelewing te hê.

“Dowe mense [moet] gehoor kan word en gelyke toegang tot onderwys, werk en die samelewing kan hê. Dit gaan ook daaroor om trots te wees op ons taal, kultuur en identiteit,” sê sy.

Lubbe sê sy het deur die jare uitdagings rondom kommunikasie en ’n gebrek aan begrip van ander mense ervaar.

Sy skryf haar vermoë om hierdie struikelblokke te oorkom toe aan die ondersteuning van haar familie, vriende en die dowe gemeenskap.

“Ek het geleer om sterk te staan, vir myself op te kom en oplossings te vind wat my help om suksesvol te wees,” sê sy.

As nuwe titelhouer wil sy help om wanopvattings oor doofheid af te breek en groter begrip tussen die dowe en horende gemeenskappe te bevorder.

“Ek wil hê mense moet verstaan dat doofheid nie beteken dat iemand minder bekwaam of talentvol is nie. Die dowe gemeenskap het ’n ryk kultuur en unieke manier van kommunikeer. Met respek en begrip kan ons almal saam ’n meer inklusiewe samelewing bou,” sê sy.

Sy beklemtoon ook die belangrikheid van gebaretaal en hoop meer mense sal bereid wees om dit aan te leer.

“Ek wens meer mense kon verstaan dat gebaretaal ’n volwaardige taal is met sy eie grammatika en kultuur. Deur selfs net ’n paar gebare te leer, kan mense help om groter insluiting en begrip te bevorder,” sê sy.

Lubbe sê haar familie en vriende was haar grootste bron van ondersteuning gedurende haar reis om die titel te verower.

“My familie en vriende was my grootste ondersteuning. Hulle het altyd in my geglo, my aangemoedig en my gehelp om uitdagings te oorkom. Ek is ook dankbaar vir die ondersteuning van die dowe gemeenskap wat my geïnspireer het om aan te hou groei en droom,” sê sy.

Marle Lubbe, Mev. Dowe SA 2026 en Chantone Nel Foto: Elize Parker

Aan jong dowe meisies regoor Suid-Afrika rig sy ’n boodskap van hoop en selfvertroue.

“Moet nooit dink dat jou doofheid jou drome beperk nie. Wees trots op wie jy is, glo in jouself en werk hard vir jou doelwitte. Jy is sterk, uniek en in staat om groot dinge te bereik,” sê Lubbe.

Sy hoop dat haar termyn as Mev. Dowe Suid-Afrika 2026 ’n blywende verskil sal maak deur groter bewustheid oor die behoeftes en potensiaal van die dowe gemeenskap te skep.

“Ek wil voortgaan om jong dowe mense te inspireer, meer geleenthede vir insluiting te bevorder en ’n positiewe verskil in Suid-Afrika te maak,” sê sy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button