Local newsNews

Topgehalte gimnasium eersdaags op Garsies se gronde

"Die bouprojek behoort Oktober voltooi te word en die sentrum sal tydens 'n spesiale aangeleentheid ingewy word."

’n Topgehalte gimnasium maak aan die einde van die maand op Hoërskool Garsfontein se sportvelde sy deure oop.

Die amptelike inhuldiging van dié gimnasium word op Donderdag, 3 Desember gehou.

Die boonste gedeelte van die gebou sal as ’n hokkiesentrum, met kleedkamers, asook ’n onthaalarea ingerig word, terwyl die onderste deel as ’n gimnasium gebruik sal word met spreekkamers vir ’n biokinetikus en ’n fisioterapeut.

Daar sal ook plek vir ’n dokter sowel as ’n dieetkundige gemaak word.

Die huidge gimnasium sal eersdaags as ’n kultuursentrum ingerig word.

“Die kondisionering van ons leerders is baie belangrik as gevolg van die vlak waarop ons wil presteer,” sê sporthoof van Hoërskool Garsfontein Retief Smit.

Garsfontein het verlede jaar as gasheerskool vir die Noord-suidtoernooi opgetree waar ongeveer 5 000 voete daagliks die skoolgronde deurgestap het.

“Hierdie gebou bied ons die geleentheid om groot toernooie – hetsy krieket of rugby – met groot sukses aan te bied.

“Die bouprojek behoort Oktober voltooi te word en die sentrum sal tydens ’n spesiale aangeleentheid ingewy word.”

Smit sê dat hierdie jaar vele eise gestel het – nie net aan leerders nie, maar ook vir afrigters.

Skole het onlangs die groen lig gekry om wéér sport te beoefen, maar volgens streng pandemie-reëls en -regulasies.

“Dit was ’n groot frustrasie om nie sport te beoefen nie. Met die dat al die sport reeds Maart afgestel is, het dit ons opnuut laat besef watter rol sport speel.

“Akademie is ons kernbesigheid, maar sport is daar vir die kinders se ontspanning, om op ’n kompeterende vlak deel te neem en om hulle van leierskap te leer asook hoe om in ’n spanverband saam te werk,” verduidelik Smit.

Sporthoof van Hoërskool Garsfontein, Retief Smit.

“Ons mis hierdie komponente, maar is gerat met die oog op volgende jaar se sportkalender.”

Daar was vroeër vanjaar sprake dat die krieketseisoen hopelik steeds sal voortgaan, maar dit is ook in die wiele gery, as gevolg van die pandemie.

“Dit was ’n groot teleurstelling,” sê hy.

“Ons eerste spanne sou briljant gewees het, veral ons eerste rugbyspan.

“Daar was geen twyfel dat Garsfontein ten minste onder die top vyf rugbyspanne in die land teen die einde van die seisoen sou eindig het nie – om nie eens van ons hokkiespanne te praat nie. In alle opsigte het ons spanne belowend gelyk,” sê hy.

Net voor die aankondiging van die inperkingstydperk, het Garsfontein se seunshokkiespan ten minste aan die Northerns-beker deelgeneem waar hulle die trofee omhoog gehou het.

Ten spyte van die seisoen, is ’n hele paar van Garsfontein se rugbyspelers reeds deur Tukkies asook die Bulle opgeraap.

“Die eerstes het ten minste een wedstryd gespeel en op grond daarvan asook die spelers se graad 11-jaar, het agente kennis van sekere spelers geneem en kontrakte aangebied.

“’n Mens moet die leerders leer hoe om teleurstellings te verwerk en hoe om nie moed te verloor nie,” sê hy.

“Hierdie is ’n duur les waaruit ons almal kan leer – ons het alles in ons vermoë gedoen om ons kinders positief te hou.

Smit voorspel groot dinge vir volgende jaar.

“Suid-Afrika het kennis van Garsfontein geneem. Ons is ’n top skool en daar is vir elke kind ’n plek in die Garsie-son,” sluit hy af.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button