Akademia hoop om studente, gemeenskap te leer reg herwin
“Hierdie afval, wat op verskeie plekke gestort word, is nie net besig om ekosisteme noemenswaardig te besoedel nie, maar reduseer talle plekke in die skepping tot 'n onplesierige ashoop.”
Akademia het Maandag ’n splinternuwe herwinningsprojek in samewerking met AfriForum van stapel gestuur.
“Herwinningsdromme, vir die gebruik van Akademia-studente sowel as personeel, word op Akademia se Centurion-kampus aangebring,” sê Elzet Bester, kommunikasiebeampte van Akademia.
“Omgewingsdag was Saterdag wêreldwyd gevier met die tema: Herstel van die Ekostelsel. Daarbenewens vier Suid-Afrika ook jaarliks gedurende Junie omgewingsmaand met die uitsluitlike doel om omgewingsbewustheid te skep. Asook om bondgenote vir ’n volhoubare, skoner omgewing bymekaar te bring.”
“Akademia wil ’n voordelige en sigbare rol in die herwinning van afvalstowwe speel en het daarom besluit om hierdie projek op die been te bring om sodoende ’n verskil te maak,” sê sy.
“Die doel van die herwinningsprojek is om bewustheid onder studente, personeel en die gemeenskap te skep sowel as om volhoubare herwinningsgewoontes te kweek.”
Volgens Bester sal Akademia ook deur navorsing en vennootskappe tot die ontwikkeling van verbeterde metodes vir afvalbeheer en -herwinning bydra.
In die toekoms sal laasgenoemde ’n groterwordende rol in die ontwikkeling van vakdissiplines by Akademia speel, veral in die natuurwetenskappe.
“Daar word elke jaar meer as 2,12 miljard ton afval wêreldwyd gestort.
“Hierdie afval, wat op verskeie plekke gestort word, is nie net besig om ekosisteme noemenswaardig te besoedel nie, maar reduseer talle plekke in die skepping tot ’n onplesierige ashoop,” meen prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia.
“Ons omgewing is saam met die natuurlike hulpbronne wat daarin voorkom geskep, en dit is dus ons verantwoordelikheid om hierdie hulpbronne volhoubaar te benut. Nie net eenvoudig weg te gooi nie.
“Dit is vanuit hierdie oogpunt dat die Fakulteit Natuurwetenskappe afvalherwinning as belangrik ag,” sê Rautenbach
Dr. Desiree Muller, bestuurder van studentesake by Akademia, vertel dat die herwinningsprojek reeds groot opgewondenheid onder die studente heers.
“Die studente sien uit om ook hul bydrae te kan lewer om die omgewing te bewaar. Lede van die private studenteverblyf is ook reeds besig om hul rommel te verdeel om die herwinningsprojek te ondersteun.”
Fondse wat deur die herwinde materiaal opgelewer word, sal ook gebruik word om van die studenteraad se projekte te finansier.
JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid, sê“AfriForum sal ook aanhou om ’n verskil in gemeenskappe te maak. Hierdie is AfriForum Centurion-tak se derde herwinningsprojek, en die tak beoog om dit nog verder uit te brei.
“Ons wil graag elke rolspeler bedank vir hul rol in hierdie projek.
“Deur sigbare afvalherwinningsfasiliteite op die kampus beskikbaar te stel, voed ons nie net ons eie studente op oor die belangrikheid van herwinning nie, ons hoop dat dit ook later na omringende gemeenskappe kan deursypel,” sê Nel.
“Dankie aan AfriForum vir die waardevolle skenking van herwinningsdromme om hierdie noodsaaklike taak te verwesenlik,” sluit Rautenbach af.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
