Local newsNewsSchools

Hoërskool Montana-hoof groet

Na 40 en ’n halwe jaar in onderwys en 19 jaar aan stuur van een van die topskole in Pretoria, tree mnr. Izak Jacobs af.

Die hoof van Hoërskool Montana, mnr. Izak (Sakkie) Jacobs tree einde Junie af na meer as vier dekades in onderwys. Hy was vir 19 jaar aan die stuur van dié skool.

Die 63-jarige Jacobs, ’n geliefde hoof en rolmodel vir personeel en leerders by die skool, sê hy sal altyd ’n Montie bly.

In ’n brief aan die skool skryf hy:

“Die mens is aan tyd gebonde en daarom stel ons bakens in die tyd… Een van die groot bakens in my tyd is nou, na 40 en ’n halwe jaar, realiteit. Ek tree aan die einde van Junie 2021 uit diens en dan eindig ’n uitsonderlike termyn vir my as hoof van Hoërskool Montana.

Die proses om ’n plaasvervanger aan te stel – wat behartig sal word deur die Beheerliggaam en aanstellingskomitee – sal eersdaags begin. Ek vertrou dat hulle baie suksesvol gaan wees ten einde die aanstelling van die beste kandidaat te verseker.

Dit was ‘n absolute voorreg en ek volstaan vir die huidige met ‘n voorlopige woord van dank aan elke rolspeler.”

Jacobs vertel onderwys was nog altyd vir hom ’n passie.

“Vir ’n klein rukkie in my kinderjare, het ek gedink ek wil ’n predikant word,” sê Jacobs.

Kollegas en oud-leerders sê hulle is beslis dankbaar dat Jacobs tog onderwys gekies het.

“Hy is ’n mense-mens, ’n vader van duisende, ’n nederige dienende leier en iemand wat homself altyd beywer vir die beste van die saak,” het lid van die skoolbeheerliggaam Johan Kruger, in viering van Jacobs se 15e jaar as hoof aan die skool, gesê.

Jacobs sê laggend: “Na 15 jaar by Hoërskool Montana, het baie nog na my verwys as die ‘nuwe hoof’.”

Na sy eie skoolloopbaan het Jacobs aangesluit by die weermag en toe het sy loopbaan in onderwys begin.

In 1983 begin hy by Hoërskool Warmbad en in 1992 word hy aangestel as adjunkhoof aan Wonderboom en vorder hy na senior-adjunkhoof by die skool.

Op 1 April 2002, begin hy as hoof by Hoërskool Montana.

Pieter Nel, ’n vorige beheerliggaamvoorsitter (2013 tot 2016), sê dis te danke aan Jacobs se geduld en langtermyn visie vir die skool, dat Hoërskool Montana sy volle potensiaal kon bereik.

Vandag is Hoërskool Montana een van die top-akademiese skole in Gauteng en blink die skool ook uit in sport en kultuur.

“Ek kan nie die krediet vat vir die skool se sukses nie, dit is absoluut spanwerk,” sê Jacobs en bedank personeel, beheerliggaam en ander rolspelers by die skool.

Verantwoordelikheid, respek en eerlikheid is die drie waardes wat Jacobs nastreef en sê dis belangrik om, as ’n leier, ’n mens se waardes uit te leef.

“Ons lewe nou in ’n moeilike tydperk, met die Covid-pandemie. Dit is in hierdie tydperk wat ons as leiers en hoofde moet volhard en vasstaan in geloof en die waardes wat ons nastreef.”

Jacobs sê om respek te hê vir die regering se regulasies en verantwoordelik te wees met toepassing van dié regulasies by die skool, kon Hoërskool Montana tot dusver hul deure oophou.

“Dit het baie kritiek ontlok onlangs, na ons aankondiging dat daar Covid-gevalle by die skool was,” sê Jacobs.

“Maar ons moet eerlik en deursigbaar wees. Deur eerlik te wees met ons leerders, ouers en personeel, kan ons voorkomend optree en kan ons onsself beveilig.”

Jacobs sê dit is met hartseer en trots dat hy die skool groet.

“Hierdie is ’n fenomenale skool en sal altyd deel van my wees. Ek sal steeds langs die sportveld kom staan en is bereid om enige tyd hulp en bystand te gee.”

Die kranige gholfspeler sê hy sien uit om sy vrye tyd op die gholfbaan deur te bring en ook meer tyd te spandeer met sy vrou, Vera.

Honderde boodskappe van goeie wense aan Jacobs het op die skool se sosialemedia platforms ingestroom.

René Kleynhans skryf:
“Dis hartseer, maar ons gun jou dit. Beste hoof wat Montana nóg gehad het – baie dankie vir al jou harde werk om Montana een van die topskole te maak! Ek self was ’n Montie (1994-98) en my dogter is nou ’n Montie. Gaan baie groot ‘voete’ vat om hierdie skoene vol te staan. Sterkte en baie seën.”

Frances Steenkamp skryf:
“My hart is baie seer. Wat ’n ongelooflike hoof wat elke kind se belange op sy hart gedra het. Ek is dankbaar dat twee van my kinders deur u hande is. Nou moet die jongste hierdie jaar matriek deurkom. Baie dankie vir al u opoffering. Ons wens u alles van die beste en bid God se rykste seën oor u toe.”

Rico Ungerer skryf:
“Baie dankie vir u voorbeeldige diens wat u gelewer het. Baie dankie vir die hoë vlak van dissipline wat u gehandhaaf het. Ek hoop u opvolger sal rondstaan om u voortreflike bestuur vol te hou. Ek vertrou dat hy of sy daarop sal voortbou. Ryan Ungerer kyk baie op na u as ’n goeie voorbeeld van opregtheid. Mag u aftreejare geseën wees deur God se genade. Ek hoop u sal so af en toe by die skool inloer om die leerders en personeel te bless met u teenwoordigheid. Voorspoed!”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button