Oosies-matrieks samel voedsel vir behoeftige gesinne in
Die projek is afhanklik van skenkings en weens Covid-19 het die reserwes vinnig begin daal.
Wanneer matrieks begin praat oor 40 days raak hoofde en onderwysers ongemaklik oor die moontlikheid van kattekwaad wat met hierdie tradisie gepaard gaan.
Dit kan egter nie van die matriekleerders van Hoërskool Oos-Moot gesê word nie.
Hulle het onlangs ’n fondsinsamelingsprojek ten bate van behoeftige Oosie-gesinne geloods.

Nicoline Lubbe, Caitlin Burnett en Nisha le Grange het besluit om hierdie jaar die bordjies te verhang deur juis die teenoorgestelde te doen.
Op Donderdag, 17 Junie, het die drie besluit om vroegoggend ’n versperring, in die vorm van sewe bokse, voor die kosprojek-organiseerder, juffrou Lee Bouwer, se deur te pak.
Natuurlik was die eerste vermoede dat dit bloot net kattekwaad is, maar hierdie projek het in ’n sprokiesverhaal ontaard.
Hierdie bokse was met nie-bederfbare voedsel gevul en nét daar en dan is ’n tradisionele 40 days poets in ’n gebaar van omgee, teruggee en onbaatsugtigheid omskep.
Die kosprojek is genoeg om maandeliks aan tussen 15 en 20 behoeftige Oosie-gesinne, ’n koskrat wat uit nie-bederfbare voedsel, skoonmaakmiddels en toiletware bestaan, te skenk.
Dié projek is afhanklik van skenkings en weens Covid-19 het die reserwes vinnig begin daal.
Die drie het die nood gesien en besluit om ’n plan te maak.
Bouwer wil hulle graag vir een van hul vele inisiatiewe wat hulle behartig, bedank.
“Welgedaan, meisies. Ons is uiters trots op julle. Só rol die Blou Golf.
“Behoeftige gesinne is ’n groot kommer en daarom het ons enige donasies wat ons kan kry, nodig om sodoende die projek voort te sit,” sê Bouwer.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
