Fiksheidspan spring wéér ten bate van diereskuiling
"Die behoefte was so groot gewees dat ons besluit het om wéér so 'n projek aan te pak."
“Hier gaan ons weer.”
Definition en Fitness se Dohme Steynberg beplan om weer vir ’n fondsinsameling te spring.
Die fiksheidspan het vroeër vanjaar die eerste van sy soort fondsinsameling ten bate van Wollies-diereskuiling gehou.
’n Span het in April ’n drie-uur lange trampolienmarathon gehou en sodoende ’n hele sleepwaentjie vol troeteldierkos ingesamel.
Dié keer gaan die span van die fiksheidklub vir One Stop diereskuiling in Heatherdale spring.
“Die behoefte was so groot gewees dat ons besluit het om wéér so ’n projek aan te pak,” sê Steynberg.
Die aangeleentheid gaan weer by Ninapark SPAR se parkeerarea gehou word.
“Na afloop van die eerste insamelingsprojek het ons soveel versoeke van ander liefdadigheidsorganisasies ontvang om met ’n fondsinsamelingsprojek te help.
“Die projek was ’n reusesukses en ek het sommer ’n warm gevoel in my hart gekry toe ek besef hoeveel kos ons ingesamel het.
“Die ondersteuning was ongelooflik. Met ’n gemeenskap soos hierdie wat dieselfde liefde vir diere soos ons koester, kan ons ’n sukses daarvan maak.
“Ek het ’n baie sagte plekkie vir troeteldiere en daarom het ons op One Stop diereskuiling besluit,” sê Steynberg.
Die gemeenskap kan die span op Saterdag, 3 Julie tussen 09:00 en 12:00 vir drie ure in aksie te sien.
’n Vrywilliger van die diereskuilding, Maynette Heyns, sê dat hulle na nagenoeg 150 honde en katte kyk.
“Ons is totaal en al afhanklik van skenkings.
“Ons het nie ’n werker wat op die perseel kan bly nie, so ons is dringend op soek na ’n Wendy huis vir die werker,” sê Heyns.
“Katte en honde, sieklik en oud en werpsels – ons probeer almal akkommodeer.
“Ek het so ’n groot hart vir my kinders en ek kan nie dit oor my hart kry om een van die diere uit te sit nie.
“Met verlede jaar se brand, probeer ons stadig maar seker op ons voete te kom.
“Ons is so opgewonde oor die fondsinsamelingsprojek,” noem Heyns.
One Stop diereskuiling wil graag ’n versoek aan die gemeenskap rig om kombersies en kos vir die diere in hulle sorg by die skuiling af te laai.
“Diereliefhebbers laai op ’n daaglikse basis noodsaaklikhede soos komberse en kos by die skuiling af.
“Dit is egter hartverskeurend om te sien hoeveel diere by ons afgelaai word, en ek sal nooit ’n dier in nood wegwys nie.
“Ons is dankbaar vir elkeen se ondersteuning. Die gemeenskap skroom nie om in te spring en te help waar hulle kan nie,” sê sy.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
