Hercules rou oor dood van ‘geliefde’ gemeenskapslid
"Die nuus van sy dood het diegene wat hom geken het, diep bedroef gelaat."
Die skielike dood van ’n kollega van Life Med-ambulansdiens het die Hercules-gemeenskap geruk.
André du Plooy, wat vir meer as 10 jaar as gewaardeerde noodbeampte by die ambulansdiens gewerk het, is Vrydagoggend oorlede.
Naasbestaandes en kollegas het Sondagaand in Swallowstraat in Doornpoort bymekaar gekom waar elkeen ’n kers aan die brand gesteek het om eer aan ’n merkwaardige en geliefde werknemer te bring.
Roché Naudé van Life Med, sê “die nuus van sy dood het diegene wat hom geken het, diep bedroef gelaat”.
“Die hemel het ’n engel gekry.
“Jy het diep spore in soveel mense se lewens getrap en jy sal vir altyd in ons gedagtes en harte bly.”
Volgens Naudé het sy kollega met sy gesondheid gesukkel en ook positief vir Covid-19 getoets.
“Ek het ’n dag voor sy dood met hom gepraat, en hy het gesê dat hy baie beter voel en binnekort sal terugkeer werk toe,” sê Naudé.
Die ambulansdiens het bygevoeg dat hy ’n toegewyde kollega was wat nooit geskroom het om ander te help nie.
“As ons hom nodig gehad het, was hy daar en het altyd hulp verleen waar hy kon.
“Hoewel ons ’n week terug van hom afskeid geneem het, kyk ek steeds in die oggende by die venster uit en wag vir hom om by die straat in te draai en deur die hek te ry,” sê Naudé.
“Sy dood voel nog so onwerklik.
“Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende. Ons gaan jou baie mis,” sê Naude.
Die DA-raadslid in wyk 1, Elma Nel, sê Du Plooy se afsterwe was ’n groot skok vir haar.

“André was ’n steunpilaar in ons gemeenskap.
“Sy naam sal vir ewig in ons harte voortleef met dankbaarheid vir alles wat hy vir die gemeenskap gedoen het.
“Hy was baie gewild en geliefd in sy gemeenskap,” sê Nel.
Die Hercules-GPF sê, nóg ’n lid wat ’n groot rol in die gemeenskap gespeel het, is oorlede.
“Van die Hercules-GPF se bestuur af, bid ons vir die Here se genade en vrede toe vir die komende dae,” sê GPF-lid Jan Prinsloo.
Die reëlings aangaande sy roudiens is nog nie bekendgemaak nie.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
