19-jarige oud-Affie vertel oor Olimpiese droom
“Dit was nog altyd my droom gewees om my land in 2020 te verteenwoordig, en siedaar! My droom het ‘n realiteit geword.”
’n Voormalige leerder van Afrikaanse Hoër Meisieskool, Duné Coetzee, het verlede week van die Olimpiese Spele in Tokyo teruggekeer.
Dié 19-jarige was deel van die Suid-Afrikaanse swem-aflosspan wat nie net ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord opgestel het nie, maar ook ’n Afrika-rekord.
Tydens haar tyd in Tokyo het sy baie dinge meegemaak en koester herinneringe wat sy nie in woorde kan omskryf nie.
Sy was deel van die optog tydens die openingseremonie en sy was daar toe Tatjana Schoenmaker Suid-Afrika se eerste goue medalje verower het. Sy was nie in die voorlopige span wat die 20-uur vlug na Tokyo toe aangedurf het nie.
Haar tyd in die 200m-vlinderslag was twee sekondes kort van ’n B-kwalifiseringstyd.
Lees ook: Sixth place for shot-put athlete from Pretoria, relay team disappoints
Haar pa het die goeie nuus met haar meegedeel met haar insluiting in die aflosspan.
“Duné! Jy is op pad Spele toe.
“Dit was nog altyd my droom gewees om my land in 2020 te verteenwoordig, en siedaar! My droom het ‘n realiteit geword.”
Sy noem dat sy bitter teleurgesteld was toe sy nie haar naam op die oorspronklike lys gesien het nie, maar vrede daarmee gemaak het omdat sy besef het dat God ’n ander plan vir haar gehad het.
“Ek het in my kamer gesit toe my pa by die deur instap om die goeie nuus mee te deel.
“Dit het so onwerklik gevoel. Dit was ’n groot skok. Ek het in trane uitgebars.”

Sy wil graag vir die volgende twee Olimpiese Speles ook kwalifiseer.
Parys, Frankryk is die volgende gasheer vir die vier-jaarlikse skouspel, wat in 2024 weer sal plaasvind.
Sy is egter vandeesweek op pad na Amerika, na die Universiteit van Georgië waar sy haar swemloopbaan gaan voortsit.
“Aan die een kant los ek alles wat ek hier ken: my land, my kultuur en my familie agter, maar aan die ander kant is ek so opgewonde oor my nuwe avontuur.”
Sedert sy gematrikuleer het, was sy dag en nag in die swembad.
Sy erken dat dit ’n groot uitdaging gaan wees om weer agter die boeke in te klim.
Sy beoog om bemarkingsbestuur te studeer.
“Ek sien vreeslik baie uit. Ek het ’n verandering nodig,” sê sy.
Coetzee sê dat Affies-skoolhoof, Marna Jordaan, haar deur haar loopbaan geweldig ondersteun het.

Coetzee het Vrydag by haar alma mater gaan kuier.
Haar boodskap aan haar voormalige Affie-maats was om elke geleentheid wat oor jou pad met albei hande aan te gryp.
“Maak die beste daarvan en glo in jou drome. Geniet die proses tot sukses. Dit is wat die reis ongelooflik maak.
“My afrigter, Linda (de Jagter) was soos my tweede ma aangesien ek 10 jaar terug by haar begin het.
“Ek het geweet die tyd sal kom waar ek die volgende stap in my loopbaan sal moet vat,” sê sy.

“Ek het al baie trane gehuil en dit is baie emosioneel om dit waarvoor ek lief is, agter te laat.”
Sy was op Laerskool Anton van Wouw waar haar sussie, Lise (16), in haar voetspore volg.
Lees ook: SA’s last hope for medal in Tokyo on marathon runners from local club
Lise konsentreer op die 200-, 400- en 800m-vryslag.
Vandat die twee se loopbaan begin het, het hul ouers ’n mini-kombuis in ’n spogkas vir al die medaljes en trofeë verander.
“Ek hoop dat die omstandighede rondom die gebeurtenis (in terme van Covid-19-regulasies), oor drie jaar sal verander.
“Ek wil voor ’n stampvol stadion swem en die staaltjies wat voormalige atlete wat aan die spele deelgeneem het, vertel, ook in dieselfde gees ervaar.”
Coetzee het haar in 2017 haar internasionale buiging in die swembad gemaak waar sy aan die Jeug Statebond Spele deelgeneem het.
“Ek moes baie opofferings gemaak het om te kom waar ek vandag is, maar elke oomblik was die moeite werd gewees.”
Suid-Afrika het twee silvermedaljes en een goue medalje by die onlangse Olimpiese Spele ingepalm.
Schoenmaker het die goud en silwer verower terwyl die branderplankryer, Bianca Buitendag, silwer om haar nek gehang het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
