Nomineer jou gunsteling onnie!
“Mense wat ’n onderwyser nomineer vir ’n toekenning het gewoonlik ’n baie persoonlike rede en ons weet daar is regtig baie onderwysers wat dit verdien."
Solidariteit se Onderwysgilde is op soek na top-onderwysers in hul landswye ‘Onderwyser van die Jaar’ kompetisie.
Dié kompetisie is om erkenning te gee aan onderwysers vir die uitdagings wat hulle vanjaar die hoof moes bied.
“Mense wat ’n onderwyser nomineer vir ’n toekenning het gewoonlik ’n baie persoonlike rede en ons weet daar is regtig baie onderwysers wat dit verdien,’ sê Anlia Archer, Solidariteit se bedryfspesialis en organiseerder vir die onderrigsektor.
Nominasies het Maandag geopen en diegene wat hul gunsteling-onderwyser onder woorde wil bring, sal moet spring want die sluitingsdatum is 26 Augustus.
Daarna sal ’n siftingsproses volg en die stemproses van 20 tot 28 September vir die publiek, waartydens die publiek vir kwalifiserende kandidate kan stem. Die finaliste sal daarna bekend gemaak en uitgenooi word na die Onderwysgilde se glansgeleentheid op 5 Oktober.
“Ons kry baie navrae oor kleuterskoolonderwysers, skoolhoofde en onderwys-assistente, en het niemand doelbewus uitgesluit nie. Daardie kategorieë sal weldra volg, alhoewel ongelukkig nie nou vir hierdie kompetisie nie. En nie noodwendig in die vorm van ’n kompetisie nie.”
Archer sê lesers kan na die bepalings en voorwaardes op hul webwerf gaan kyk.
“Die kriteria vir die kompetisie word op die webwerf aangedui, en die puntetoekenning werk as volg: 50% gaan aan die publieke stem, 25% aan lidmaatskap, en 25% aan Solidariteit se paneelbeoordeelaars.”
Onderwysers wat nie oor lidmaatskap beskik nie, kan dit enige tyd steeds bekom, sê Archer.
“Jy mag meer as een onderwyser nomineer, maar ’n onderwyser mag net een keer deur een spesifieke nomineerder genomineer word. Die onderwyser kan dus vir soveel nomineerders as wat hom/haar nader, toestemming verleen vir die nominasie.”
Archer verduidelik dat onderwysers kennelik die korrektheid van die aansoek moet kan bevestig in soverre feite betref.
“Nadat die nomineerder die aansoek aanlyn ingedien het, sal die onderwyser ’n e-pos van Solidariteit ontvang wat hom/haar inlig dat hulle genomineer is.
“Die onderwyser is dan die inskrywer en neem verantwoordelikheid vir die inskrywing deur die bepalings en voorwaardes te aanvaar, feite te bevestig, en sodoende word die inskrywing geregistreer. Onderwysers moet bloot instruksies volg soos aan hulle gekorrespondeer sal word.”
Volgens Archer behoort daar nie probleme met suksesvolle registrasie op te duik net solank onderwysers dophou dat e-posse nie byvoorbeeld in hul gemorspos gaan lê nie. As hulle in hierdie geval vervolgens sodoende sperdatums misloop, is daar ongelukkig geen salf aan te smeer nie.
“Wanneer al die nominasies dan ontvang is, word daar twee groepe Top 20’s saamgestel, een vir Laerskool-onderwysers, en een vir Hoërskool-onderwysers. Dit sal later in beide kategorieë uitgedun word tot twee Top 10-groepe,” verduidelik sy.
“Daarna sal Solidariteit se paneelbeoordeelaars besoek aflê by die betrokke onderwysers se skole, en hulle touwys maak aangaande ’n video wat hulle dan oor hulself moet vervaardig.”
Archer sê die glansgeleentheid word in Pretoria gehou en sou dit byvoorbeeld ’n onderwyser wees wat van ver uit ’n ander provinsie kom, sal Solidariteit die onderwyser se koste dek om dit te kan bywoon.
Lesers moet egter in gedagte hou dat veranderinge kan plaasvind as gevolg van Covid-regulasies wat mag opduik.
“Daar word ook ’n algoritme in die kompetisie ingebou om die grootte van die skool te bepaal sodat onderwysers van groot en klein skole beide ‘n regverdige geleentheid kry.”
“Daar is lekker pryse op die spel vir die onnie wie se hart op die regte plek sit,” sluit Archer af.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
