Moot-inwoner vier 100e-verjaarsdag
Heerlike feesvieringe het op hom gewag met ’n smaaklike middagete en 'n verjaarsdagkoek waar sy mede-inwoners en personeel van die oord die dag saam met hom geniet het.
’n Moot-inwoner, Clement Bezuidenhout, het Maandag ’n eeu van sy lewe gevier.
Hoewel hy nooit gedink het dat hy tot 100 sou leef nie, het hy gesê dat hy ’n goeie lewe agter die blad het en dankbaar is dat hy so lank gespaar is.
Sy raad om nog op hierdie ouderdom blakend gesond te wees is, ’n gesonde leefstyl, ’n positiewe lewensbenadering, ’n goeie humorsin en ’n onwrikbare geloof in Jesus Christus.
Bezuidenhout is sedertien 1998 ’n inwoner by die Doringbome-aftree-oord.
Heerlike feesvieringe het op hom gewag met ’n smaaklike middagete en ’n verjaarsdagkoek wat sy mede-inwoners en personeel van die oord die dag saam met hom geniet het.
Dié 100-jaar- oue Moot-inwoner se kinders, kleinkinders én agterkleinkinders beplan om Sondag vir hom te gaan kuier.
Clement het in 1945 die knoop met Baby Bezuidenhout afgehak, maar sy is in 2007 oorlede.
Twee jaar later het hy vir Miempie ontmoet en die twee is al 12 jaar getroud.
Clement is met drie kinders, Eli, Elize en Alta geseënd. Hy het ook agt kleinkinders en 14 agterkleinkinders.
Hy was ’n pastoor en het in verskeie dorpe gewoon waar hy in die bediening was.
Vandat hy en Baby in 1945 getroud is, het hul Pretoria gewoon.
Clement was ook lank by Yskor in die administratiewe afdeling betrokke.
“Ons pappa is so gesond en ons is dankbaar dat ons hom steeds vandag nog by ons te kan hê.
“Hoewel sy oë baie verswak het, mis hy nie sommer rugbywedstryde nie – veral nie wanneer die Blou Bulle en die Springbokke in aksie is nie,” sê Alta.
Clement geniet sy blomme en plante vreeslik baie en skroom nie om elke dag spoggerig aan te trek met ’n das om die nek nie.
“Hy is gek oor sy tuin en sorg altyd dat daar kos en water vir die voëls is,” voeg sy by.
“Hy is ook mal oor malvalekkers in sy koffie.

Van sy goue oomblikke is wanneer sy kinders of kleinkinders vir hom kom kuier.
Clement is onvoorwaarlik lief vir Miempie en die twee gee werklik om vir mekaar.
“Ons sien uit om die naweek saam met die twee te kan kuier. Hy is so opgewonde oor ons kuiertjie,” sê Alta.
’n Jare lange vriendin van Clement en Miempie, Susan Davis, sê dit is ’n voorreg om daagliks saam met Clement in die tuin doenig te wees.
“Ons bly al agt jaar saam in Doringbome waarvan ons sedertien huisvriende is.
“Dit is ’n eer om hulle as vriende in my lewe te hê. Op 100-jarige ouderdom geniet ek dit om hom te sien waar hy homself in sy eie tuin uitleef.
“Ek is baie lief vir hierdie twee. Veels geluk met hierdie wonderlike mylpaal,” sê Davis.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
