Local newsNews

Maak reg vir Aardklop se Opwipfees einde September

“Ongeag met wie jy praat, die versugting bly dieselfde: Ons het almal ‘n behoefte om asem te haal, letterlik en figuurlik."

Aardklop maak met groot opwinding bekend dat die beplande Opwipfees vanjaar voortgaan in Pretoria vanaf 28 September tot 3 Oktober.

“Die fees word by drie verskillende plekke in Pretoria aangebied, naamlik die Voortrekkermonument (VTM), Atterbury Teater en Afrikaanse Hoër Seunskool,” sê Alexa Strachan, hoof- uitvoerende beampte van Aardklop.

“Ongeag met wie jy praat, die versugting bly dieselfde: Ons het almal ’n behoefte om asem te haal, letterlik en figuurlik. Maar veral om sáám asem te haal. Kunstenaars en die publiek smag na uitlaatkleppe en blote samesyn. Aardklop 2021 inspireer, verrras, vermaak en nooi uit: Kom skep saam asem.”

Strachan sê die Opwipfees is ’n mini-Aardklop, wat ’n verskeidenheid van drama, musiek, films, gesprekke, kursusse en visuele kuns insluit.

“Die meeste produksies word by die VTM aangebied. Daar word slegs een produksie by Affies aangebied, naamlik Nataniël (verteller) se Karnaval van die diere met pianiste Charl du Plessis en Megan Geoffrey-Prins.

Strachan sê dié produksie vorm ook deel van die Aardklop Aubade, waar klassieke musiek elke eerste Sondag van die maand sedert November laas jaar by Affies aangebied word.

“Daar is slegs twee produksies by Atterbury Teater, naamlik Opdrifsel met die bekroonde akteurs Tinarie van Wyk Loots en Brendon Daniels en Ek wens, ek wens, Frank Opperman se debuutproduksie.”

Strachan sê die res gebeur by die VTM onder andere Sandra Prinsloo en Marion Holm se produksies.

“En dan is daar ’n skreeusnaakse produksie van Brendon Daniels en Deon Lotz, Kamp, waar ons die verhoog in die veld bou. Die twee het nog nooit voorheen gekamp nie.

“Daar gaan ook lekker onderhoude gevoer word met die kunstenaars wat mense baie sal geniet.”

Pretorianers kan uitsien na feestelike produksies op Aardklop se Opwipfees in Pretoria vanjaar. Foto: verskaf.

Volgens Strachan is die belangrikste redes vir die besluit om die Opwipfees te hou, Aardklop se behoefte om ’n platform en hoop te bied aan kunstenaars en mense in ’n bedryf wat op sy knieë gedwing is.

“Die feit dat die skool- en universiteitsvakansies bly verander, asook die beperking op getalle, maak dit onmoontlik om die fees in sy tradisionele formaat in Potchefstroom aan te bied.

“Aardklop se borge en vennote, wat die NWU Potchefstroomkampus, Dagbreek Trust NATi, Atterbury Trust, AK 21, en LW Hiemstra Trust insluit, het hulle begrip vir en ondersteuning aan die projek uitgespreek.”

Sy sê voorts die suksesvolle aanbieding van Aardklop Pronk Podium by die AfriForum-teater verlede week het boonop “bewys dat Aardklop-gehore in Gauteng steeds die fees wíl ondersteun”.

Meer besonderhede oor kaartjieverkope en die volledige program kan besigtig word by: www.aardklop.co.za. Klik op Opwipfees.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button