Erfenisstigting ontvang unieke masker
Petra Luus, die Erfenisstigting se museumkurator, sê daar is meer as 2 000 skenkings al ontvang, “maar daar is nog nooit op só ’n masker afgekom nie.
Die Erfenisstigting se museumstoor by die Voortrekkermonument (VTM) het só ’n unieke item ontvang dat selfs ’n kenner daaroor kopgekrap het.
Volgens Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder, is “dié skaapvel-masker deur Wilna Mentz en die Mentz-familie van Pretoria geskenk en volgens familie-oorvertelling is dié masker toentertyd gebruik om mens se gesig teen die son te beskerm”.
“Haar man, Johannes Petrus Mentz, is volgens oorvertelling die agterkleinseun van Anna Elizabeth de Klerk (Mentz) wat in die Bethulie-konsentrasiekamp saam met haar vier kinders tydens die Anglo-Boereoorlog was.”
Pretorius sê Dr Johan van Zÿl, senior vakkundige van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke by die Nasionale Vrouemonument, het bevestig Mentz en haar kinders was in dié konsentrasiekamp.
Van Zÿl het die masker as baie vreemd en bisar beskryf.
“Ek het nog nooit op só iets afgekom nie.
“Die masker is van skaapvel gemaak,” sê Van Zÿl, “en hoe ons dit weet, is dat daar rokke van skaapvel in die Bethulie-konsentrasiekamp gemaak was. Die familie se vertelling is korrek, maar die rede vir die masker se gebruik sal altyd onseker wees”.
“Haar dogter Elizabeth Margaretha, het in 1965 ’n oorvertelling getik van hul ervaring as kinders in die konsentrasiekamp en die haglike omstandighede waarin hulle moes leef.”

LEES OOK: Voortrekkermonument vier plante op lentedag
Volgens Van Zÿl was mense toe al siek en elke dag deurentyd het ’n fluitjie van die kamppolisie geblaas.
“Sodra ’n lyk verwyder word, het die fluitjie ’n skrillende geluid laat hoor. So was ons eendag by die begraafplaas toe in by die 20 oop grafte 20 lyke geplaas was met ’n uitsondering almal in kakiekomberse toegewikkel. Kiste was nie bekombaar nie,” het Elizabeth Margaretha geskryf.
Petra Luus, die Erfenisstigting se museumkurator, sê daar is meer as 2 000 skenkings al ontvang, “maar daar is nog nooit op só ’n masker afgekom nie.
“Dit maak dié item van onskatbare geskiedkundige waarde.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
