Local newsNews

Drie dinamiese sangers stel enkelsnitte vry

"As 'n sielkundige, werk ek daagliks met mense se stories, gevoelens, emosies en ervaringe. Op dieselfde manier, skep musiek 'n platform vir mense om hulself uit te druk en hul stories te vertel."

Sanger en liedjieskrywer, Claire Hopkins het sopas haar enkelsnit en eerste oorspronklike liedjie, “Keeper” vrygestel.

Dit is die beeldskone jong kunstenaar se derde vrystelling waar sy vroeër vanjaar weergawes van “Drunk” en “Undo It” uitgereik het. Haar tweede oorspronklike snit word reeds vervaardig en ’n musiekvideo “Keeper” sal ook binnekort bekendgestel word.

“Keeper” is ’n country/popsnit, wat haar stem soos ’n handskoen pas.

“Buiten daarvoor dat die liedjie baie persoonlik is, weerspieël die wysie en tempo die pret en geluk wat ek en my kêrel Stuart (Philip) deel,” sê sy.

“Keeper” is opreg, rou en outentiek en die lirieke vertel hoe sy die liefde van haar lewe ontmoet het.

“Gedurende ’n tyd waarin ons konstant omring word deur slegte nuus en negatiwiteit, is my wens dat ‘Keeper’ vir ander mense hoop en vreugde sal bring.”

Sy was haar hele lewe lank passievol oor musiek en het reeds op hoërskool professionele sanglesse ontvang. Op 17, het sy haar weergawe van Adele se “Someone Like You” professioneel laat opneem.

Claire Hopkins se “Keeper” vertel hoe sy haar kêrel ontmoet het. Foto: Verskaf

Tans is sy besig met haar internskap in opvoedkundige sielkunde en spog sy met ’n onderwysdiploma, twee honneursgrade (opvoedkundige sielkunde en remediërende terapie) en ’n meestersgraad in opvoedkundige sielkunde.

Vir haar, hou haar liefde vir musiek nou verband met haar loopbaan.

“As ’n sielkundige, werk ek daagliks met mense se stories, gevoelens, emosies en ervaringe. Op dieselfde manier, skep musiek ’n platform vir mense om hulself uit te druk en hul stories te vertel.”

Sy sê dat haar liefde vir musiek multi-dimensioneel is.

“Eerstens skep dit ’n geleentheid om met ander mense te kommunikeer, dit is ’n genre vir iedere en elk, dit is ’n liedjie vir elke lewenservaring en laastens skep dit ’n platform om jou ervaringe te deel en jouself uit te druk.”

Haar familie, vriende en verhoudings inspireer haar, asook die begeerte om vreugde, hoop en positiwiteit te versprei.

– Pretoria se Kate Rok, het op 1 Julie vanjaar musiekliefhebbers in vervoering gehad met ’n enkelsnit, “Maangenade”, wat gereeld op radiostasies gespeel word.

Sedertdien het sy op die eerste dag van elke maand ’n nuwe enkelsnit en musiekvideo digitaal uitgereik.

Aan die begin van Augustus, het “Afrika Reën” verskyn en op 1 September het “Verlate” gevolg.

Nóú is sy terug met haar volgende radio-enkelsnit, “Wilgerlied”.

Hierdie alternatiewe snit, uit haar eie pen, gaan daaroor dat die mens die natuur geniet, maar nie behoorlik daarna omsien nie.

“Die natuur is my asem en waaruit ek my inspirasie put. Dit laat my skatryk voel en maak my vry, daarom is ek hartseer oor wat ons, as mens, aan die aarde doen,” sê sy.

Kate Rok sing ‘n liefdeslied vir die natuur. Foto: Verskaf

In hierdie besonderse lied, neem die klank, lirieke en harmonieë die luisteraar op reis om saam met haar opnuut verlief op die skepping rondom hulle, te raak.

Die musiekvideo, wat op haar pa se gasteplaas Madeira verfilm is, kan beskryf word as visuele kuns wat versier is met die mooiste natuurtonele.

“Beeldskone natuurskote, waar ek op ’n berg die krag van die Skepper ervaar en my nietigheid besef, staan in sterk kontras met beelde van ’n vullishoop, wat die mens se invloed op die natuur simboliseer,” sê die musikant.

“Die boodskap is om die natuur lief te hê, te waardeer en op te pas.”

Kyk hier na Kate Rok se enkelsnit, “Wilgerlied” – 

– Rita Li van Centurion raak by die dag meer gewild met haar aansteeklike lus vir die lewe.

Sy gaan egter nou verseker nóg meer harte verower met haar nuwe popsnit, “Dink aan jou lyne”.

Dit is pas vrygestel en vier die onthou-oomblikke van ’n vorige verhouding.

Dit is deur Stella (Christelle Combrink) geskryf en vervaardig deur The Hit Factory se Murray Lubbe.

“Hierdie lied gaan oor herinneringe van ’n vorige verhouding, die plekke wat die paartjie besoek het en die fisiese aspekte van haar maat soos die lyne van sy lyf, sy lippe en hande.

Rita Li se nuwe enkelsnit, “Dink aan jou Lyne” is nou op alle sosialemedia platforms beskikbaar. Foto: Verskaf

“Elkeen van ons het iemand waarop ons verlief was en daarom sal die lirieke aanklank vind by meeste mense.

“Die konsep is gevorm rondom die lirieke en beeld spesiale oomblikke van ’n vorige verhouding uit.

“Die akteur saam met my, Kallas Eksteen, is ’n goeie vriend uit my kinderdae uit en natuurlik ’n goeie uitbeelding van die lyf se lyne.

“Dit was ook vir my belangrik om die grootste gedeelte aan die opneem van die liedjie te spandeer,” sê sy.

Rita Li is ’n plaasmeisie van Clocolan in die Vrystaat, maar woon deesdae in Pretoria.

Sy is ’n veelsydige musikant en liedjieskrywer, ’n kranige danser en ’n opgeleide sportfisioterapeut wat nie bang is om groot te droom nie.

Tans werk sy aan materiaal vir haar tweede album en haar eie klerereeks.

Sy is besig om aan vertonings te werk, insluitende ’n liefdadigheidsfunksie vir vroue, landswye toere en ’n Kersproduksie.

Kyk hier na Rita Li se enkelsnit, “Dink aan jou lyne” hier – 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button