10 onderskeidings vir Menlopark-matrikulant
"Ek is veral lief vir vee en ek sal graag in die plattelandse gemeenskap n verskil wil maak."
Dit lê nie sommer in enige iemand se broekspype om 10 onderskeidings in jou matriekjaar te behaal nie, maar Die Hoërskool Menlopark se Louis van den Heever het dié uitnemende prestasie agter sy naam geskryf.
Só is hy ook sy skool se top akademiese leerder vir die matriekklas van 2021.
Dié voormalige laerskoolleerder van Louis Leipoldt, gaan sy liefde vir diere voortsit deur Veeartsenykunde te gaan studeer.
“Ek is veral lief vir vee en ek sal graag in die plattelandse gemeenskap ’n verskil wil maak.”
As ’n klein seuntjie het hy destyds al vir sy onderwysers gesê dat as hy eendag groot is, wil hy ’n skatryk man wees.
“Op die platteland is waar ek wil wees waar ek troeteldiere, vee en wilde diere behandel en natuurlik my eie plaas besit.”
Daar is nie juis iets wat niemand van Louis nie weet nie, omdat hy ”’n oop boek is wat sy hart op sy mou dra”.
“Ek moet egter bieg, ek kan numeriese waarde van pi (?), tot 400 desimale opsê en as ek nie voor my boeke is nie, geniet ek die plaaslewe of ek is voor die rekenaar waar ek strategiese oorlogspeletjies aandurf.”
Van sy grootste kenmerke is eerlikheid, doelgerigtheid, lojaliteit, hardwerkend en waagmoed.
“Ek is altyd die klasnar, vriendelik en selfstandig.
“My raad aan die matriekkgroep vir 2022 is om balans te hê, hard te werk, die groter prentjie te sien, eerder te lag as te huil en om jou doelwit in kleiner dele op te breek.
“Waardeer die klein dingetjies in die lewe.”
Van die 18-jarige se grootste drome, sal wees om die groot wildebeesmigrasie in Kenia te aanskou.
“Om ’n koor in ’n groot katedraal te sien en om Venesië te besoek, is ook op my aftiklysie.”
As daar enigiemand is saam met wie jy graag op ’n foto sal wees, wie sal dit wees?
“Die Suid-Afrikaanse besigheidsmagnaat en entrepreneur, Elon Musk.
“Ten spyte van vele uitdagings wat hy in die gesig gestaar het, het hy bo uitgekom.”
Só het Van den Heever gevaar– Afrikaans: 90%- Engels eerste addisionele taal: 85%- Wiskunde: 92%- Lewensoriëntering: 96%- Rekeningkunde: 95%- Toerisme: 96%- Alpha Wiskunde: 85%- Geografie: 82%- Fisiese Wetenskappe: 92%- Biologie: 87%.
LEES MEER> Garsies se prestige byeenkoms gee voorskou wat skole-atletiekseisoen kan oplewer
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
