Zwartkop swemmers presteer by Interhoër.
Zwartkop het ’n totaal van 36 medaljes op die dag ingepalm waarvan 11 goud, nege silwer en 16 brons was
Hoërskool Zwartkop se swemmers het vanjaar goeie prestasies tydens die onlangse interhoër swemkompetisie gelewer.
“Verskeie medaljewenners is aangewys. Zwartkop het ’n totaal van 36 medaljes op die dag ingepalm waarvan 11 goud, nege silwer en 16 brons was,” sê die swemorganiseerder, Kevin Jackson.
“Marius van Rooyen kry goud in die seuns o.15 vlinderslag. Jana Vorster het ’n goud in beide die 100m vryslag en 50m vlinderslag in die meisies o.14 wedlope los geswem. Xandri Fourie presteer deur twee goue medaljes in die 200m en die 100m vryslag te kry.”
Jackson sê Kornel Smith het goud gekry in die seuns o.19 100m borsslag en Chris Smith spog met twee goue medaljes in die 100m vryslag en 100m borsslag vir seuns o.16.
“J.D. Venter is nog ’n gouemedaljewenner in die seuns o.16 100m rugslag item. Die uitblinkers op die dag is egter Benjamin Lindeque wat ’n nuwe rekord in die seuns o.19 50m vlinderslag opgestel het in ’n tyd van 25.97s.”
James Smith spog met sy nuwe rekord van 59.80s in die seuns o.19 100m vlinderslag, sê Jackson.
“Die Zwartkop-swemspan groei elke jaar ten spyte van die feit dat Hoërskool Zwartkop nie ’n swembad het nie.”
“Baie van ons swemmers is lede by verskillende swemklubs in Pretoria.”
Jackson sê Jana Vorster (o.14) en Xandri Fourie (o.15) is twee junior meisies wat gerus dopgehou kan word.
“Ek verwag ook groot dinge van Marius van Rooyen, D.J. Bester, J.D. Venter en Chris Smith.”
LEES MEER: Die Groot Trap vier fietsryers se terugkeer na die pad
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.