Gewilde onnie se hare waai ten bate van Cansa
“Ons hou ’n jaarlikse kaskarkompetisie en ek het vir die kinders gesê as hulle vanjaar meer geld insamel as laas jaar, gee ek my poniestert in hulle hande.
’n Gewilde onderwyser moes les opsê toe sy poniestert moes waai oor hy ’n weddenskap verloor het, wat hy toe aan Cansa geskenk het.
Jurgen Maree (23) is ’n oud-leerder van Laerskool Die Poort en hou al twee jaar lank skool by sy Alma Mater. Hy gee Natuurwetenskap vir grade 4, 5 en 6.
“Ons hou ’n jaarlikse kaskarkompetisie en ek het vir die kinders gesê as hulle vanjaar meer geld insamel as laas jaar, gee ek my poniestert in hulle hande.
“Die uitdaging was dat hulle vanjaar heelwat minder tyd gehad het as laas jaar om fondse in te samel.”

Maree het die vier hoofleiers dapper trotseer terwyl hulle oë onbehoorlik geglinster het toe hulle die skêr trakterend onder mekaar aangegee het.
Hy moes voor die hele skool op ’n stoel sit en sy poniestert was ’n hele 47cm lank.

Tussen Neels Potgieter (hoofseun), Isabella Da Silva (hoofdogter), Ruben Janse van Rensburg (onderhoofseun), en Selie de Villiers (onderhoofdogter), moes hulle ’n hele paar keer knip om deur die boskasie te kom.
“Vyf jaar lank groei ek al aan my haredos, maar ek het die weddenskap verloor en het besluit om dit aan Cansa te skenk.”

Nadat die buit eers triomfantlik omhoog gehou is ten aanskoue van die jillende pawiljoen, is dit oorhandig aan Bianca van Eeden verbonde aan die Cansa-kantoor in Rietfontein.
Aneke Pearson, wat al 16 jaar lank by Die Poort skoolhou en boonop Maree se graad 4-onderwyser was, was die organiseerder van die gebeurtenis.
Sy vertel ook van die skool se Projek Hoop, waar die skool 10% van alle fondse wat hulle insamel, aan hierdie projek skenk.
“Hiermee ondersteun ons kinders graag hul mede-leerders wat minder voorregte as meeste ander geniet. Voorts ondersteun die skool dan ook Cansa.”

Pearson het ook ’n donasie aan Cansa oorhandig namens die skool.
Die skool se bemarker, Simoné van der Merwe, sê die skool help graag in die gemeenskap waar hulle kan.
“Ons het onlangs komberse ingesamel vir lede van ’n naburige gemeenskap waar talle wonings afgebrand het.
“Ons sien ook baie daarna uit om voortaan selfs nouer betrokke te raak by Cansa.”
Van Eeden het die leerders toegespreek en ingelig oor die werk wat Cansa verrig.

“Ons het verskillende programme waarby gemeenskapslede betrokke kan raak soos Relay For Life, die Shavathon, TokTokkie, en SunSmart.”
Sy het uitgewei oor die ondersteuningsgroepe en –dienste wat Cansa bied, en vir die leerders vertel dat familielede van kankerpasiënte ook ondersteuning nodig het.
“Cansa vervoer ook pasiënte na fasiliteite waar hulle behandeling moet ontvang.
“Ons gebruik die geld wat julle insamel ook wanneer klein kindertjies kanker kry en hulle wil hê hulle mammas en pappas moet by hulle in die hospitaal bly en hulle daar moet oorslaap.”
Maree was darem nie té hartseer oor sy hare wat moes waai nie, en sê “dit voel op ’n manier lekker, dit voel ligter, maar ek gaan dit mis”.
Op ’n vraag of hy onmiddellik weer sy hare gaan laat groei, het hy gesê hy sal daaroor moet dink.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
