Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het verlede week by Laerskool Saamspan besoek afgelê.
Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.
Bestuurder van jeugleierskap van AfriForum, Leandie Bräsler sê dat dit vir hulle belangrik is om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n daadwerklike verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan.
“Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms.
“Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees.
“Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Bräsler.
Professor Elmarie Kritzinger van Unisa het die leerders toegespreek oor kuberafknouery en hoe om tegnologie op ’n veilige manier te gebruik.
Departementshoof van die intern- en seniorfase by Laerskool Saamspan, Danelle Collins noem dat dit skool daarna streef om in woord en daad hulle slagspreuk, “die skool vir gelukkige kinders” te wees.
“Dit is vir ons belangrik om ’n boelieweek te hou sodat ons ons leerders positief kan beïnvloed deur om ander te behandel soos jy graag behandel wil word.
“Afknouery kom in verskillende vorme voor en daarom is dit noodsaaklik dat leerders toegerus word met die nodige kennis en vaardighede om ’n boelie uit te ken, maar ook om positief teenoor hom/haar op te tree.
“As ons almal saamstaan kan ons die skool vir gelukkige kinders bly,” sê Collins.
