Mathys Roets vereer met FAK prestige-toekenning
“Mathys het nie net die talent en ’n mooi stem nie, maar hy beweeg deur die industrie met absolute integriteit. Ek eer jou daarvoor,” sê Davel.
Bekende Afrikaanse sanger Mathys Roets is onlangs bekroon met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se prestige-toekenning.
In ’n glansgeleentheid, wat in die FAK se Afrikaanse Liedjietuin by die Voortrekkermonument gehou is, het Roets dié toekenning vir sy volgehoue bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf ontvang.
Roets het self by die geleentheid opgetree en hartsnare geroer, en die gehoor saam met hom op reis deur sy sangloopbaan geneem met treffers soos “Droomvrou” en “Lisa se klavier.”
Roets vertel hoe hy as kind die FAK se sangbundel gebruik het om nuwe musiek te ontdek.
“Daardie jare was daar nog nie iets soos Google nie.
“Om hierdie toekenning te ontvang, is asof die sirkel voltooi is,” vertel Roets.
Bekendes en goeie vriende van Roets, Jannie du Toit en Anna Davel, het hom ook by die geleentheid ondersteun.
Du Toit het vertel van Roets se passie vir musiek en met ’n kraak in sy stem wens Du Toit hom geluk met hierdie spesiale toekenning.
“Jy verdien dit ou maat,” het du Toit gesê.

Davel het ook van die geleentheid gebruik gemaak om vir Roets geluk te wens. Davel en Roets is al 30 jaar lank vriende, sedert die dae wat Roets nog in die gewilde Pavarotti’s restaurant gesing het.
“Mathys het nie net die talent en ’n mooi stem nie, maar hy beweeg deur die industrie met absolute integriteit. Ek eer jou daarvoor,” sê Davel.
Wat hou die toekoms in vir Mathys Roets?
“Net nog meer,” was Roets se antwoord hierop.
“Dit is ’n eer vir die FAK om hierdie geleentheid saam met Roets en sy familie te kon deel,” sê Dr. Danie Langer.
LEES MEER: Harlequins wys tande vir teenstanders in Carltonliga
