Altesaam 77 seniorfase-leerders aan die Via Nova Skool se emosies het tussen bewondering en ekstase wipplank gery toe hulle die Nasionale Dieretuin in Pretoria, besoek het.
Die dieretuin-uitstappie op 15 Junie was ’n reusesukses – ’n eerste vir dié LSEN-skool, en die eindresultaat van ’n spanpoging tussen passievolle onderwysers, ouers, en ’n handjie vol vrygewige borge.
Via Nova Skool, ook geleë in Pretoria, bied spesiale onderrig en opleiding aan leerders met outisme en erge intellektuele gestremdhede.
Die skool maak voorsiening vir leerders vanaf junior- tot seniorfase, en fokus nie net op akademiese prestasie nie maar glo vas dat die holistiese ontwikkeling van elke leerder geprioritiseer moet word.
Twee van die skool se senior ondersteuningsfase-onderwysers, Allen Compaan en Nakita Jonker, het al die beplanning wat saam met só ’n uitstappie gepaardgaan, behartig.
Jonker verduidelik dat dit vir haar en Compaan belangrik was dat die leerders die dieretuin besoek omdat meeste van hulle nog nooit wilde diere in lewende lywe gesien het nie.
“Baie van ons leerders se families is nie finansieel in staat om verrykende ervaringe soos dieretuin-uitstappies te kan bekostig nie.
“Al kan mens in ’n klaskamer verduidelik hoe elke dier lyk, klink en optree, kan dit eenvoudig nie by ’n interaktiewe ervaring kers vashou nie,” meen sy.

Met die reël van die uitstappie het Jonker en Compaan egter besef dat hulle ekstra finansiële hulp gaan benodig as hulle kos en water by die dieretuin aan die leerders wil voorsien.
Grainvest-groep, ’n private beleggingsmaatskappy wat in die landbou- en energiebedryf belê, het ingestem om kos, water, en groen sakkies vir hierdie spesiale dag te borg. Varsity Bakery & Bar het die kos en water voorsien, en Creative Brands het die sakkies teen ’n afgemerkte prys verskaf.
Die leerders is heel eerste na die dieretuin se piekniek-area geneem waar Selina Maake, assistent-direkteur van onderwysbestuur van die Pretoria-dieretuin se departement van biodiversiteits-onderrig, almal meer oor besoedeling en die reëls van die dieretuin geleer het.
Volgens Jonker het hierdie uitstappie ’n glimlag op elke leerder se gesig gesit.
“Die blydskap en opgewondenheid wat hierdie uitstappie in elke leerder laat borrel het, maak alles die moeite werd. Ons het uitstekende terugvoer van beide ons leerders en hul ouers af ontvang.
“Om te weet dat ons werklikwaar ’n verskil in elke kind se lewe maak, maak my net meer gemotiveerd om my beste vir elke leerder elke dag te gee,” voeg sy by.
“Ons wil graag opreg dankie sê vir Grainvest-groep, Varsity Bakery & Bar en Creative Brands vir hul bereidwilligheid om ons te ondersteun. Sonder hulle sou hierdie dag nie moontlik gewees het nie,” sluit Compaan af.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.