Local newsNews

Groot Trek-held word by die Voortrekkermonument verewig

Pretorius word as een van die belangrikste leiers in die Voortrekkergeskiedenis gesien en daarom het die monument besluit om die beeld deel van die trekroetetuin te maak.

’n Beeld ter nagedagtenis van ’n voormalige Voortrekkerleier, Andries Pretorius, is in die Voortrekkermonument se historiese trekroetetuin opgerig.

Sedert opknappings aan die Voortrekkermonument se trekroetetuin in 2021 begin is, is verskeie beelde van trekkerleiers en ander monumente al in die tuin opgerig en op 23 Julie het Pretorius ook sy plek in die tuin ingeneem.

Pretorius word as een van die belangrikste leiers in die Voortrekkergeskiedenis gesien en daarom het die monument besluit om die beeld deel van die trekroetetuin te maak.

Die Pretorius-beeld is deur die beeldhouer Jaco van Niekerk geskep.

Tydens die amptelike onthulling van die Pretorius-beeld in die tuin, het die kultuurkoördineerder van die Federasie van die Afrikaanse Kultuur (FAK) Barry Müller vertel dat die tuin en die beeld van Pretorius daar is om mense te herinner aan die ryk kulturele erfenis wat historiese helde vir ons agtergelaat.

“Met die uitbreiding van die trekroetetuin, wou ons graag die Groot Trek weer lewendig maak vir die monument se besoekers,” sê hy.

“Die tuin is nie bloot hier om vir mense meer inligting te gee oor die Groot Trek nie, maar ook om vir mense wat dalk nie die oorspronklike museums en monumente kan besoek nie, ’n geleentheid te gee om dit te sien en te beleef.

“Pretorius kan as een van die belangrikste leiers in die Voortrekkergeskiedenis gesien word en daarom is dit vir ons belangrik dat ons as Afrikaners die gelofte onthou, die wonderwerk van Bloedrivier en Pretorius se bydrae in die geskiedenis,” sê Müller.

Van Niekerk, wat verskeie van die beelde in die trekroetetuin gemaak het, het op sy beurt gesê dat hy besonders trots is op sy handewerk en dat dit vir hom ’n riem onder die hart is om te weet dat hy deur sy kuns die storie van ons Afrikanerhelde kan vertel.

Die Pretorius-familie saam met Shaun Heunis en Barry Müller van die FAK.

Daan Pretorius, ’n agterkleinkind van Andries Pretorius, en sy familie het al die pad uit die Vrystaat gekom om saam met die monument hulde aan hul formidabele voorouer te bring.

“Dit is vir ons ’n eer om te weet dat Andries van nou af hier in die trekroetetuin gaan staan,” sê hy.

“Ons familie het al ’n lang pad geloop en ons is trots daarop om te kan sê dat ons afkomstig is van een van ons land se grootste helde.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button