HTS John Vorster vier 60 jaar met groot makietie
Die skool is op 1 Januarie 1962 geopen maar die amptelike bekendstelling en opening het op 23 September 1962 plaasgevind.
Die Hoër Tegnologiese John Vorster het hul 60e verjaarsdag op 23 September gevier.
Die organiseerders het seker gemaak die dag onvergeetlik was met opwinding, pret, stalletjies en uitmuntende musiek.
HTS John Vorster is in 1962 geopen en hulle eerste hoof was C.M. Moll.
Die skool is op 1 Januarie 1962 geopen maar die amptelike bekendstelling en opening het op 23 September 1962 plaasgevind.
Oud-president John Vorster het dié dag saam met personeel en leerders gevier.
Die skool vertel hoe hulle nostalgies en bevoorreg is om presies 60 jaar later, ook die dag te kan vier met die wete dat HTS John Vorster gegroei het tot die beste tegnologiese skool in Gauteng.
In 1985 het hulle die skool se eerste dogter verwelkom en in 2022 staan die skool reeds op 950 leerders waarvan 120 dogters is, en die getal groei steeds.
Die skool het ’n totaal van vyf hoofde gehad.

Foto: Verskaf
Mnr C.M. Moll is opgevolg deur mnr. Hanekom in 1986. Johan Wagenaar is as hoof aangestel in 1993 en is opgevolg deur Chris Steinmann in 2007.
Antoinette Dowd is in 2019 aangestel as die skool se eerste vroulike hoof en ook as die skool se vyfde hoof.
Al die hoofde, behalwe wyle C.M. Moll, het die merkwaardige 60-jarige viering bygewoon en “dit was ’n eer en voorreg om al die hoofde op hierdie dag saam met ons te hê,” sê die skool.
Ilse Kritzinger is tans die personeellid wat die langste by HTS John Vorster is, sedert 1984.
Sy het in die era van al vier hierdie hoofde skoolgehou.
Die dag het begin met die skool se jaarlikse Warrior Race, waar leerders in graadverband teen mekaar deelgeneem het.
Daarna het van die omliggende laerskole ook hul staal kom wys by die Warrior Race.
Amptelike feesvieringe het om 14:00 afgeskop, met Rooksein se optrede om 15:00.
Meer as 50 stalletjies het gesorg dat elke persoon genoeg kon eet, drink en koop na hartelus.
Om 16:00 het Irene-Louise van Wyk leerders vermaak met haar sang en Ghapi, ’n trotse oud-JV, se tromme en rasperstem het vanaf 17:00 die gaste vermaak.
Om 18:00 het SA Monster Truck Promotions die asems weggeslaan met hulle toertjies en naelbytvermaak.
Hulle eie JV-leerder, Stephan Nel, het die groot monstertrok bestuur.
Na groot vermaak het Bernice West met haar engelstem die verhoog betree en haar gewildste liedjies gesing.
Die terrein was toe reeds volgepak en in groot afwagting op die laaste kunstenaar, Jo Black.
Jo Black het die aand afgesluit met treffers soos “Nooit Alleen”, “Bring die Hoop Weer Terug” en “Rig Jou Oë Na die Berge”.
LEES MEER> Grade 1 and 8 placement offers running till November 30
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
