Groter Moot buurtspan groei steeds
‘n Jaar en half terug het die buurtspan met twee lede begin en nou tot agt lede gegroei.
AfriForum se Groter Moot buurtspan lok meer en meer inwoners en het vandeesweek hul agtste permanente werker aangestel.
“Ons span het hierdie week ons agtste permanente werker aangestel,” vertel buurtbeampte, Andries Opperman.
“Josia Deysel (19) het Maandag sy oranje uniform vir die eerste keer aangetrek en ingeval by die res van die span.”
Die buurtspan word gefinansier deur ledegeld en borge uit die gemeenskap.
Tans is die span voltyds besig om werk aan te pak wat, volgens Opperman, die Stadsraad nie die kapasiteit het om te doen nie, of wat agterweë bly as gevolg van korrupsie of blote swak dienslewering.
’n Jaar en half gelede het die buurtspan met twee lede begin, en deur die Mootgemeenskap se steun, het hulle nou tot agt lede gegroei.
“Ons stel graag jong Afrikaner mans aan wat in die Moot bly, want so ploeg ons ook terug in die DNS van die Moot.
“Die geld wat hierdie salarisse betaal, kom van die Moot-inwoners en daarom wil ons dit ook gebruik om inwoners geleenthede te gee.”

Die tak probeer ook waar moontlik indien opleiding gee. So het hulle al verskeie kort messelkursusse aangebied.
Die afgelope Maandag het Silmow Grassnyerdienste juis ook vir die span ook geleer hoe om die kettings van kettingsae behoorlik skerp te maak.
Opperman sê hulle sal graag hulle opleidingsgeleenthede wil uitbou en vir die buurtspanlede nog meer geleenthede wil gee, soos om byvoorbeeld swaarvoertuig bestuurslisensies te ontvang en te leer sweis.
“Indien daar enige onderneming is wat met ons saam wil werk, nooi ons julle om met ons kontak te maak by grotermoot@afriforumtak.co.za.
“Die gemeenskap kan gerus munisipale probleme of misdaad onder ons aandag bring deur dit aan te meld op Telegram: @AfriForumBuurtBot of by buurtbot.co.za
“Mens wil maklik kla oor die verval van die staat, probleme met regstellende aksie, swak ekonomiese omstandighede en gebrek aan geleenthede, maar dit vat ’n gemeenskap om op te staan en ’n eiland van uitnemendheid saam te bou,” sluit Opperman af.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
