Voortrekkermonument se Wenkommando is paraat
Vroeër vanjaar het die VTM twee projekte geloods om hul sekuriteitsmaatreëls te versterk.
Die Voortrekkermonument se sekuriteitspan, oftewel “Wenkommando” soos hulle daar bekend staan, sien al vir jare om na die veiligheid van die monument en hul mense.
Die Wenkommando het vanjaar groot veranderinge aangebring en vandag sien hulle om na die terrein met ’n sterk honde-eenheid, fietsryerskorps en voetpatrollies om te verseker dat die veiligheid van die monument, toeriste en personeel altyd ’n prioriteit is.
Vroeër vanjaar het die monument twee projekte geloods om hul sekuriteitsmaatreëls te versterk.
Met die ondersteuning van die gemeenskap, het die sekuriteitspan 14 nuwe honde op die monumentterrein gekry en ’n vloot fietse waarmee hul beamptes die terrein 24/7 kan patrolleer.
Hierdie honde is reeds tuis by die VTM en het onlangs, saam met hul eienaars en hanteerders, met intensiewe opleiding begin.
Die monument het Frans Campher, van MiDogz mobiele honde-opleiding, hiervoor opgekommandeer.
Frans het al jare se ervaring met die opleiding van honde en vir hom is dit ’n hartsaak om te sorg dat die monument se nuwe honde die beste opleiding moet kry.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die monument, het gesê hy én die wenkommando is baie dankbaar vir die steun van die publiek.
“Die Voortrekkermonument het ’n tydjie terug gevra vir hulp met waghonde en ou fietse om ons terrein te beveilig.
“Ons is regtig oorweldig deur die welwillendheid uit die gemeenskap. Ons kan net opreg en nederig dankie sê vir al die ondersteuning,” het hy gesê.
“Die Wenkommando trap die fietse teen Monumentkoppie uit sodat die fietskettings sing en drafstap agter ons wakker waghonde aan.”
Die monument het replikas van voorlaaiers uit die Groot Trek met kruithorings gekry om hul kultuurdrag (uniforms) aan te vul.
“Een en almal staan trots op hul poste.
“Boonop het ons Wenkommando al sewe booswigte en rondlopers gearresteer.
“Tshwane se natuurbewaring sny ’n kaplyn oop en planne word flink gemaak om drade te herstel om ons wild te beveilig,” het hy afgesluit.
ALSO READ: Groter Moot buurtspan groei steeds
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.