Jong akteurs vertel Afrikaners se verhaal by monument
“Ek dink ons almal het ’n verantwoordelikheid om ons storie te vertel,” sê Carla Hoogendoorn, wat die rol van verskeie sterk vroue gaan vertolk.
“Hoe kan ’n jongmens weet waarheen hy op pad is, wanneer hy nie weet waar hy vandaan kom nie?”
Dit is die vraag waarmee baie jong Afrikaners worstel; ’n vraag wat sinoniem geword het met toekomsbou, wat die verhaal van die Afrikaner oor die eeue heen vertel.
Voortrekkermonument (VTM) het vanjaar ’n opwindende nuwe projek aangepak.
Die projek behels twee jong akteurs wat hierdie verhaal van uithou, klippe kou, bou en onthou in die monument se nuwe museumteater, met “Toekomsbou” as tema, gaan vertel.
Besoekers kan saam met die karakters reis deur die verlede, sonder vervelige oorvertellings, sonder dat dit voel soos ’n les en sonder ’n lang lys name en datums.
In elke vertrek speel ’n volwaardige toneelstuk af.

EEN AKTRIESE VERTOLK DIE ROL VAN VERSKEIE STERK VROUE
Carla Hoogendoorn vertolk die rol van verskeie sterk vroue uit wie se perspektief dié verhaal vertel word.
Eduan Naudé speel die rol van JP (Jacobus Philip), ’n jong Afrikanerman wat met foto’s van sy ouma hierdie verhale voor hom sien afspeel.
Teatergangers maak kennis met vele sterk vrouekarakters uit elke era van die Afrikanergeskiedenis, maar veral:
-’n boeremeisie wat ’n oes wil hê wanneer haar pa van Ceylon af terugkom.
-’n mynervrou wat groot drome het vir die toekoms van haar kinders en
– die staatspresident se sekretaresse wat agter die skerms ’n republiek help bou.
Vir Hoogendoorn en Naudé is hierdie rolle elkeen van ’n leeftyd.
Nie omdat beide hul buiging as akteurs maak in die splinternuwe teateruitstalling nie, maar omdat hulle as jong Afrikaners, die verhaal van hul voorouers kan leef én laat voortleef.
“Ek dink ons almal het ’n verantwoordelikheid om ons storie te vertel,” sê Hoogendoorn.
“Vir my is dit wat hierdie nuwe teatermuseum so spesiaal maak, want ons kan die stories vertel, ons kan dit voor ons sien afspeel en deel wees van die geskiedenis.”

ALMAL WERK HARD OM ALLES REG TE KRY VIR OPENINGSAAND
Akteurs is reeds hard aan die werk om die lywige teks onder die knie te kry.
Die span agter die skerms is druk besig om die teater uit te lê, te bou en reg te kry vir die openingsaand.
Naudé voel, nes Hoogendoorn, dat hierdie uitstalling die potensiaal het om die geskiedenis van die Afrikaner vir jare te laat voortleef.
“Geskiedenis is vir baie mense net ’n klomp ou foto’s – iets wat in ’n kas lê en verdor, maar hierdie uitstalling sal mens weer leer hoe belangrik dit is om te weet waar jy vandaan kom,” sê hy.
“Die karakter wat ek vertolk, is ’n jong man wat nie weet waar hy vandaan kom nie, maar deur sy ouma se foto’s en vertellings die geskiedenis leer waardeer.
“Ek dink dit is wat hierdie uitstalling ook vir besoekers gaan doen.”
Die monument beplan om die uitstalling op 31 Mei te open en is baie opgewonde om hierdie geskiedkundige uitstalling op die planke te bring.
Lees meer: Jy vra: Hoekom kry mens net in die winter griep?
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
