Pretoria se spelsterre kry tien uit tien
Pretoria se skole het die eerste AfriSkuld Nasionale Spelkampioenskap oorheers, met Karin-Alet Visagie en Matthew Hurter as junior- en senior-kampioene. Die kompetisie het 178 finaliste uit Suid-Afrika byeen gebring en Afrikaanse taalvaardigheid gevier.
Afrikaanse taalvaardigheid en ’n voorliefde vir moeilike woorde was op 21 en 22 September by die Atterbury Teater die wenners se mededingende voordeel tydens die eerste AfriSkuld Nasionale Spelkampioenskap.
Pretoria se slimkoppe het ’n groot aantal van die kampioenskap se eerbewyse ingepalm.
Karin-Alet Visagie van Hoërskool Oos-Moot het die Junior-afdeling gewen, terwyl Matthew Hurter van Hoërskool Montana as Senior Kampioen aangewys is.
Die twee afdelingswenners het daarna teen mekaar meegeding om die algehele nasionale titel.
In dié finale kragmeting het Visagie die oorhand gekry en is sy as die 2026 AfriSkuld Nasionale Spelkampioen gekroon.
Altesaam 178 finaliste van verskillende dele van Suid-Afrika het aan die kompetisie deelgeneem, met leerders wat hul spelvermoë in ’n reeks uitdagende rondes op die verhoog moes bewys.
Die kampioenskap is deur AfriSkuld aangebied met die doel om Afrikaans op ’n vars en energieke manier te vier.
Die fokus was nie slegs op korrekte spelling nie, maar ook op die geleentheid om leerders se selfvertroue en belangstelling in die korrekte gebruik van Afrikaans aan te moedig.
Brandon Roberts, woordvoerder van AfriSkuld, sê “die standaard van die leerders het ons besonder beïndruk. Dit was besonders om te sien hoe hulle hul senuwees beheer en met soveel selfvertroue aan die kompetisie deelneem.”
Die kompetisie is in twee afdelings aangebied. Die Junior-afdeling was vir leerders in Graad 8 en 9, terwyl Graad 10- en 11-leerders in die Senior-afdeling meegeding het.
Anders as ’n tradisionele spelkompetisie waarin deelnemers hoofsaaklik individueel optree, is die kampioenskap in ’n kop-aan-kop-formaat aangebied.
Leerders het in verskeie rondes direk teen mekaar meegeding. Namate die kompetisie gevorder het, het die aantal deelnemers verminder totdat die kampioene in die onderskeie afdelings bepaal is.
Roberts verduidelik die formaat het beteken dat deelnemers nie net oor ’n uitgebreide Afrikaanse woordeskat moes beskik nie, maar ook onder druk moes konsentreer.

Leerders van onder meer Paarl, Upington, Nelspruit, Pietersburg en Ermelo was onder die deelnemers.
Pretoria se skole was ook goed verteenwoordig, met onder meer leerders van skole soos Hoërskool Centurion, Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Montana, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Zwartkop.
Die woorde wat deelnemers moes spel, het gewissel van alledaagse Afrikaanse terme tot besonder ingewikkelde vak- en beskrywende woorde.
Onder die moeiliker woorde om onder die knie te kry was aërodinamika, opgetoënheid, betroubaarheidskoëffisiënt, hartoorplantingspasiënt, spektroheliograaf en jantjietrapsoetjies.
Roberts glo die moeilikheidsgraad van die woorde het ook die deelnemers se kennis van uitspraak op die proef gestel.
“Hulle moes dit ook voor ’n gehoor doen terwyl hulle bewus was dat een fout hul plek in die kompetisie kon beëindig,” wys hy uit.
Die kampioenskap het ’n totale kontantpryspoel van R300 000 aan wenners en deelnemers gebied. Die Junior- en Senior Kampioen het elk R50 000 ontvang. Dieselfde bedrag is aan die skole van die twee afdelingswenners toegeken, wat beteken dat Hoërskool Oos-Moot en Hoërskool Montana elk R50 000 ontvang het.

Visagie se oorwinning in die finale stryd het haar ’n verdere R50 000 besorg. Hoërskool Oos-Moot het ook ’n bykomende R50 000 ontvang nadat Visagie die algehele nasionale titel verower het.
Roberts sê die reaksie van die deelnemers was vir hom ‘n riem onder die hart.
“Ons wou hê leerders moet Afrikaans op ’n manier ervaar wat opwindend is,” sê hy. “Die kampioenskap het gewys hoeveel talent daar onder jong Afrikaanssprekende leerders is.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
